Die All Stars-sokkerspan van Kalkfontein het vanjaar vir die eerste keer aan ’n liga deelgeneem.
John Brower, afrigter, sê die span is in 2019 deur Carlton Slingers, Brandon Hendricks en Jeffrey Broken begin, maar het toe net vriendskaplike wedstryde gespeel.
Gesonde kompetisie waar trofeë op die spel is dien natuurlik as aansporing en vanjaar het die All Stars aan die Landelike Stigting Sportunie se eerste liga deelgeneem.
Brower sê sestien spanne het in die liga kragte gemeet. Dit is meestal sokkerspanne van plase in die Stellenbosch-omgewing wat aan die liga deelneem.
“Dit was ons eerste jaar in die liga en toe maak ons geskiedenis deur vier toernooie agtermekaar te wen,” sê hy.
Brower sê die All Stars het in die eerste ronde van die liga-kompetisie tweede geëindig en uiteindelik ook algeheel tweede in die liga geëindig.
“Ons het promosie gekry na die premierliga (van die Landelike Stigting Sportunie) vir die volgende seisoen.”
Die All Stars maak gebruik van die sportveld duskant die Laerskool Kalkfontein. Brower sê in die seisoen oefen die spelers Maandae tot Donderdae so van 17:00 af (afhangend van hoe gou almal daar kan wees) tot donker.
“Vrydagaand hou ons spanpraatjie en Saterdae is die wedstryde.”
Speler van die jaar
Nathan Skerman is as die sportunie se Speler van die Jaar aangewys by ’n prysuitdeling op Stellenbosch die afgelope naweek.
Brower sê die All Stars is met nege trofeë beloon by die geleentheid.
Die span het vanjaar ondersteuning gekry van die plaaslike wyksraadslid Ebrahim Sawant wat onder meer met balle en trofeë gehelp het asook om Hamilton Estates as borg vir die span se uitrusting betrokke te kry.
Sawant sê die bestuurspan van die All Stars doen goeie werk en offer elk in hul persoonlike hoedanigheid baie op vir die klub.
Ondersteuning is ook ontvang van Grantham Jansen, ’n afgetrede skoolhoof en Greg Kakora, ’n rekenmeester, sê Brower.
- Kontak John Brower by 071 136 3497 of per WhatsApp by 068 439 8421 indien jy wil help.





