Buspendelaars is ontstoke oor ’n kakkerlak-besmetting op Golden Arrow-busse, wat volgens hulle smerig vuil is.
“Dis verskriklik! Jy sit nog die een oomblik en dagdroom en die volgende oomblik skarrel ’n groot kakkerlak oor jou skoot.
“Ek het groot geskrik; dis erg om te beleef,” sê Jacques van Zyl van Brackenfell.
Van Zyl klim drie keer per week op die Kraaifontein-na Kaapstad-bus, wat in Brackenfell en Bellville stop.
“Dis regtig nie aangenaam nie; wat ’n palava! Mense skrik groot en spring rond in die bus elke keer as ’n kakkerlak oor hulle hardloop.”
Van Zyl ry al van 2018 die bus en sê daar was al voorheen kakkerlakke.
“Dis nou die tweede somer in ’n ry dat ons die bus met kakkerlakke deel. Jy voel skoon vuil as jy by die werk aankom. Dis nie reg nie, mense betaal immers baie vir buskaartjies.”
Van Zyl betaal R217 vir sy weeklikse kaartjie.
’n Ander pendelaar wat nie haar naam in die koerant genoem wil hê nie, sê die busse is baie vuil en onhigiënies.
“Die vensters is vetterig van mense se hare en word baie min afgevee. Die vloere word net uitgevee; dit lyk of dit nooit gewas word nie. Daar is ook rommel onder die sitplekke. Ek moes self die ander dag ’n kakkerlak wat eiertjies aangedra het tussen my voete doodmaak. Ander mense op ons busgroepie het ook daaroor gekla. Dis geen wonder nie,” sê sy.
Sy ry daagliks tussen Kraaifontein en Kaapstad in ’n propvol bus.
Volgens haar is dit ook nie elke dag dieselfde bus nie.
“Ons ry verskillende busse en hulle is almal vuil. In die oggende word ons ook deur muskiete gebyt. Ek ry nou drie jaar soggens en smiddae bus, maar het al lankal opgelet dat die busse nie behoorlik skoongemaak word nie,” sê sy.
Haar maandelikse buskaartjie jaag haar R868 uit die sak.
“Dis belaglik dat hulle so baie vra en dan nie mense aanstel om die busse skoon te maak nie. En dan gaan die busgeld nog elke jaar op ook,” sê sy.
Van Zyl sê hy het die Golden Arrow-busdiens verlede jaar geskakel om dit te rapporteer en is verseker dat die klagte na die regte departement deurgegee sou word. “As hulle wél daai tyd gif gespuit het, beteken dit hulle moet meer gereeld gif spuit en die busse ontsmet,” sê hy.
Gereeld skoongemaak
Bronwen Dyke-Beyer, woordvoerder van Golden Arrow-busdienste, sê die binnekant van die busse word gereeld skoongemaak.
“Dit word gedoen deur ons eie werknemers en professionele skoonmaakondernemings. Dit kan egter nie ná elke reis gedoen word nie, wat beteken dat minstens ’n volle dag se ritte moet plaasvind voor ’n omvattende skoonmaak.
Volgens Dyke-Beyer word die busse ook elke twee weke met gif bespuit soos aanbeveel word.
“Ons sal ondersoek instel oor wat gebeur het sodat alle kwessies opgelos kan word. Ons moedig ons passasiers aan om al sulke kwessies by complaints@gabs.co.za aan te meld met die spesifieke busnommers sodat ons so gou as moontlike aandag daaraan kan skenk.”





