Lede van die groep Eoan van Athlone.FOTO’S: KAYLYNNE BANTOM


Selfs nie eens ’n sterk wind kon Saterdag 16 Maart die lekker atmosfeer keer by die Fan Walk in Groepunt, waar die Kaapstad-karnavalparade aanskoulike vermaak gebied het.

Toeskouers is betower deur die 10 sierwaens en meer as 1 400 deelnemers wat van 20:00 aan die parade deelgeneem het.

Prof. Rachel Jafta, voorsitter en medestigter van die Kaapstad-karnaval, het gesê sy voel heel tevrede dat die parade, nou in sy 14de jaar, ten spyte van die wind sonder enige haakplekke kon voortgaan.

“Mense het die lekker gees gebring – jy kon dit in hul gesigsuitdrukkings sien. Mense se kreatiwiteit verras my altyd.

“Die idee was dat hierdie iets moes wees waaraan enigeen kon deelneem en ek haal my hoed af vir sommige van die deelnemers. Ek is taamlik gelukkig met hoe dit alles afgeloop het.”

Die WP Media-span bestaande uit TygerBurger, People’s Post, en City Vision het aan die voorafparade deelgeneem en gespog met hul unieke uitrustings van ou koerante.

Aletta Ellis, uitgewer van WP Media, het gesê: “WP Media is verheug om deel te wees van hierdie gebeurtenis. Gemeenskapsbetrokkenheid lê ons na aan die hart en dié byeenkoms weerspieël waarlik die Kaap se ongelooflike talent. Dis vir ons ’n eer om met die Kaapstad-karnaval geassosieer te wees.”

kunstenaars byeen

Die parade bring kunstenaars van verskeie gemeenskappe oor die provinsie byeen. Wendy Brockman, inwoner van Strandfontein en lid van die dansgroep Aphrodite, het gesê dit was haar 10de jaar as deelnemer aan die karnaval.

“Dis ’n ongelooflike ervaring. Ons het reeds in November begin oefen,” het hy gesê. “Vir ons gaan dit alles oor die pret.”

Die kunsgroep Intsinga Zeqonga van Nyanga was een van die talle dansgroepe wat die skare ritmies laat saamdans het.

Renate, ’n toeskouer, het gesê dit was haar heel eerste karnaval en sy sal beslis volgende jaar terug wees.

Roseline Sias van Kewtown het haar kinders na die parade gebring en gesê hulle was baie opgewonde oor al die feestelikhede.

Jaftha het haar dankbaarheid uitgespreek aan almal wat betrokke was.

“ ’n Reuse-dankie aan almal wat elke jaar kom om dit saam met ons te geniet vir hul ondersteuning en wonderlike terugvoering. Aan die Kaapstad-karnaval-span en al die gemeenskappe: sonder hulle is ons niks. Hulle het hart en siel hierin gesit. Dankie ook aan die Media24-span.”

TygerBurger en Media24 is die trotse drukmediaborg van die karnaval.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article