Raadsheer Marian Nieuwoudt is op Vrouedag vereer by ’n spesiale afskeidspartyjie met haar onlangse aftrede.

Desirée Rorke

Na bykans drie dekades van toewyding aan die gemeenskappe van Kaapstad het Marian Nieuwoudt, voormalige burgemeesterskomiteelid,  raadslid vir Brackenfell en Kuilsrivier se Wyk 8 en voorsitter vir Subraad 2 uit die politiek getree.

Met haar amptelike aftrede op 31 Julie laat sy ’n ryke nalatenskap aan die gemeenskappe van Kaapstad.

Haar kleurryke loopbaan, wat gekenmerk is deur uitmuntende diplomasie en ’n hart vir mense, is op Vrouedag by ’n elegante afskeidspartyjie in Proteahoogte gevier.

Onder die gaste was Dan Plato, voormalige burgemeester, Dirk Smit, voormalige speaker en Beverly Schäfer, voormalige adjunk- speaker van die Wes-Kaapse Wetgewer, Grant Twigg, burgemeesterskomiteelid vir stedelike afval, Brenda Hansen en Rheinhardt Bresler, raadslede in Brackenfell en Kraaifontein.

In sy toespraak het Plato gereflekteer oor die dekades wat hy en Nieuwoudt saam gewerk het. Nieuwoudt het vir albei Plato se termyne as lid van sy burgemeesterskomiteelid gedien in die beplanning- en omgewing- sowel as behuisingsportefeuljes.

“As jong raadslede in ’n tyd van oorgang in die land het ons mekaar se kwessies verstaan. Marian het nie gehuiwer om na die anderkant van die spoorlyn te gaan om uit te reik na arm gemeenskappe nie. Sy was hardwerkend en het elke uithoek van die stad geken. Sy is ’n ware omgeemens en die Stad Kaapstad gaan haar mis”
Dan Plato

Ook die huidige burgeneester, Geordin-Hill Lewis, het Nieuwoudt vereer op haar laaste raadsvergadering in Julie.

“Vanoggend neem ons afskeid van een van Kaapstad se langsdienende raadslede, en ’n ware dienaar van die inwoners. Hill-Lewis het haar bedank vir haar 28  jaar diens as veteraanlid van die DA.

“Raadsheer Niewoudt is van 1996 tot vandag vir hierdie raad verkies. In hierdie tyd het sy elke moontlike taak verrig wat jy as raadslid kan doen,” het Hill-Lewis gesê.

Vorige burgemeesters

Hy het ook boodskappe van ander vorige burgemeesters gedeel.

Helen Zille het Nieuwoudt bedank vir baie jare se toegewyde diens en haar geluk toegewens in haar aftrede.

“Ek en Marian het skouer aan skouer gewerk om die DA te probeer bou van ’n baie verdeelde begin, tot die magtige organisasie wat dit vandag is, om ’n regeringsparty op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak te wees,”
Helen Zille

Patricia de Lille het haar geprys as iemand wat waarlik in diens van die mense van Kaapstad gestaan het.

“Haar lang diensjare is ’n uitstaande prestasie en ’n bewys van haar waardevolle bydrae tot Kaapstad en sy inwoners. Nadat ek etlike jare saam met haar gewerk het, het ek haar leer ken as ‘n vrou met ‘n hart vir die mense van die stad. Haar waardevolle bydraes het vooruitgang in die stad gelewer,” het De Lille gesê.

Ook Xolani Sotashe, van die ANC het haar vereer.

“As raadsheer het jy ‘n indruk gemaak; skerpsinnig en een van die slimste leiers wat die DA ooit opgelewer het. Ons verskil dalk oor ideologie, maar wat ek by jou geleer het, is nederigheid. Een van die nalatenskappe wat jy agterlaat wat ek nooit sal vergeet nie is toe jy nie geskroom het om die mense van die Morkel’s Cottage- informele nedersetting by te staan nie. Jy het saam met my uitgereik na hulle en dit was die eerste keer dat baie mense hier ’n wit Afrikanervrou in die haglike omstandighede gesien het. Jy het ’n besluit geneem en vandag het hulle dakke oor hul koppe,” het hy vertel.

 Agtergrond

Niewoudt is in 1957 in Johannesburg gebore as die derde van nege kinders. Sy het aan die Hoërskool Carletonville gematrikuleer en in 1978 haar graad in maatskaplike werk aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. As ’n maatskaplike werker was sy vir 19 jaar betrokke by gemeenskapswerk en opleiding van maatskaplike werkers.

Sy en Gerrit, haar man van 45 jaar, nou ’n afgetrede kolonel in die polisie, het in 1984 Wes-Kaap toe verhuis toe hy na Worcester verplaas is. Hier het sy klasgegee aan die Minnie Hofmeyer Kollege en het later na nog ’n oorplasing na Kaapstad by die ACVV bejaardesorg gedoen. Sy was ook verbonde aan die Universiteit Stellenbosch tot 1992.

Na dit het sy gemeenskapswerk gedoen vir ’n NGO en as vrywilliger gehelp met aansporing van kiesers om te gaan stem. Met die eerste demokratiese verkiesing in 1995 is sy verkies as wykraadslid vir Brackenfell, Northpine en deel van Wallacedene.

Tydens haar 27 jaar as raadslid in merendeels dieselfde gebiede het sy ook voltydse poste by die Stad beklee as burgemeesterskomiteelid en voorsitter vir die portefeuljes van klimaatsverandering en behuising.

Die afgelope jare het sy gedien as voorsitter van Subraad 2, Kraaifontein.

“Regering en beleidmaking het my nog altyd geïnteresseer. Ek glo dat as jy betrokke en ingelig is kan jy verander en waarde byvoeg,” het sy aan TygerBurger gesê.

 Brackenfell

Sy beskryf die eerstydse Brackenfell as ’n landelike gemeenskap wat gespreek het van welwillendheid.

“Ons het ons melk op die plaas gekoop en soggens het die beeste en hoenders ons wakker gemaak. Die gemeenskap is besonder familieverbonde, wat ’n veilig leefruimte skep. Ons is ’n sterk Afrikaanse gemeenskap en trots op ons taal.”

Hoewel die wyk gedurende haar tyd as raadslid geografies verklein het, het die bevolking toegeneem.

“Vandag is Brackenfell die ekonomiese hartland van die gebied met ’n  aktiewe eiendomsmark. Ons het ’n baie sterk funksionerende verspreidingsektor en huisves  van die grootste datasentrums.” 

Die vestiging van die Bracken-natuurtuin, die brandweerstasie en  Proteahoogte Akademie was net ’n paar hoogtepunte in haar loopbaan. So ook was die ontwikkeling van die Stad Kaapstad se eerste klimaatsveranderingplan.

Maar daar was ook laagtepunte en teleurstellings.

“In my loopbaan was daar lang droogtes, die planne was in plek, maar moeilik om te implementeer. Besoedeling is ongelukkig nog ver van opgelos, ons riviere is regtig siek. Brackenfell het nog nie ‘n maatskaplike ondersteuningsnetwerk nie en ten spyte van herhaalde pogings is die sportfasiliteite nog onvoldoende.”

Nieuwoudt sê gesondheidsuitdagings het haar genoodsaak om uit te tree. “Ek is oortuig dat die gemeenskap ‘n toegewyde verteenwoordiger verdien. ‘n Gemeenskap is net so goed soos elke individu daar binne, jy kan nie ‘n gesonde en gelukkige gemeenskap wees as ons nie vir en met mekaar leef nie. Brackenfell is spesiaal omdat julle spesiaal is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article