Biblioteekpersoneel van oor Kaapstad heen het Vrydag, op die vooraand van Biblioteekweek en Boetevryeweek, aan ’n kleurparade deelgeneem.


Die Stad Kaapstad se biblioteekpersoneel het op Vrydag 15 Maart op die vooraand van die Suid-Afrikaanse Biblioteekweek aan ’n kleurparade in die Kaapstadse middestad deelgeneem.

Biblioteekweek vind van 18 tot 23 Maart plaas. Dit val ook saam met Boetevryeweek, wanneer die publiek die geleentheid gegee word om uitstaande materiaal terug te besorg sonder om ’n boete te betaal.

Volgens Minda Maritz, hoofbibliotekaris by die Goodwood-biblioteek, kry die biblioteek gewoonlik heelwat boeke terug.

“Ons moedig ook ons lede aan om die geleentheid te gebruik om boeke wat lank uitstaande is in dié tyd terug te bring,” sê Maritz.

Sy meen die publiek maak beslis van die geleentheid gebruik.

“Ons kry boeke terug wat andersins verlore sou geraak het en kan dit weer beskikbaar stel vir ander gebruikers. Dit is tot voordeel van die lede van die biblioteek in die sin dat die blok op hul kaartjies afgehaal word en hulle weer kan boeke uitneem, wat op sy beurt weer bydra om statistieke te verhoog,” verduidelik Maritz.

Patricia van der Ross, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het ook aan die kleurparade deelgeneem.

“Dit is die ideale kans om materiaal terug te bring en iets nuuts te geniet om te lees, te kyk of na te luister.

“Ons bibliotekarisse is gereed om al die items te ontvang en jou na nog avonture en towerkragte te lei,” het Van der Ross in ’n verklaring gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article