JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het verlede Donderdag (26 Februarie) aan ‘n patrollie deur die strate van Kalkfontein deelgeneem.
Smith het gesê hy het die patrollie saam met die plaaslike buurtveiligheidsbeamptes (vir Wyk 19) onderneem as deel van ‘n “Burgemeestersblitz”, ‘n diensleweringsuitreik waarby verskillende stadsdepartemente betrek word en wat verlede week in Subraad 14 plaasgevind het.
“Die geïntegreerde operasie, wat in samewerking met die verkeersdepartement gehou is, was onder meer gemik op bendegeweld, dwelmhandel, skoolvervoer en onwettige meganiese werkswinkels,” het Smith gesê.
Een vrou is tydens die operasie vir die besit van dwelms in hegtenis geneem nadat die beamptes Mandrax by haar gekry het.



Varkboerderye
Smith was ooglopend ontsteld oor die haglike omstandighede waarin varke by die onwettige boerderye naby die voetgangerbrug en die R300-snelweg aan die rand van die woonbuurt aangehou word.
Hy was dadelik op sy foon. “Ek het dit aangemeld by wetstoepassing, omgewingsgesondheid, die DBV sowel as ander dierewelsynsorganisasies,” het Smith gesê. “Ek het verskeie oortredings van regulasies waargeneem en dit is belangrik om daarop te wys dat hierdie grond onwettig beset word.”
Die Stad Kaapstad se wetstoepassingseenheid en departement van omgewingsgesondheid is verantwoordelik om die aangeleentheid op te volg.
Veiligheidsbeamptes
Gevra oor veiligsheidsinisiatiewe vir spesifiek Kalkfontein, het Smith gesê dat hierdie gemeenskap een van dié is waaraan buurtveiligheidsbeamptes (vyf per wyk) toegewys is.
Smith het uitgewys dat die buurtveiligheidsbeamptes, wat in 90 wyke reg oor die Stad Kaapstad ontplooi is, tussen September en November verlede jaar op 1 070 eenhede dwelms beslag gelê en 115 dwelmverwante inhegtenisnames gemaak het.
“Die spanne het op groot hoeveelhede Mandraxpille, dagga en tik in verskeie wyke beslag gelê en ook mense in hegtenis geneem wat voorskrifmedikasie soos Xanax en hoesstroop verkoop het, in hul pogings om gemeenskappe veiliger te maak,” het Smith gesê.
“In vennootskap met plaaslike rolspelers, insluitend die polisie, buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums, het die spanne aan verskeie operasies en ingrypings deelgeneem wat tot die inhegtenisname van ‘n verdere 94 mense op verskeie aanklagte, wat wissel van poging tot moord en inbrake tot die besit van gevaarlike wapens, gelei het.”
Meld aan
Smith vra dat mense alle veiligheidsprobleme by die Stad Kaapstad se noodoproepsentrum aanmeld, waar ‘n verwysingsnommer uitgereik sal word. “Dit is nodig om effektiewe bevel en beheer van operasionele personeel te verseker en om profiele vir elke wyk te kan ontwikkel wat dan bydra tot effektiewe ontplooiing en verbeterde reaksie,” het hy gesê.
Deur diensversoeke te registreer kan die werk wat deur die buurtveiligheidsbeamptes gedoen word, nagegaan word om verantwoordbaarheid en deursigtigheid te verseker.
Die Stad Kaapstad beplan om binnekort ‘n selfoontoepassing (app) bekend te stel wat inwoners sal toelaat om noodgevalle aan te meld sonder om ‘n oproep te maak.
Skakel die Stad Kaapstad se noodoproepsentrum by 021 480 7700.







You must be logged in to post a comment.