Grondeienaars in Brackenfell en dié deel van Kuilsrivier in Wyk 8 het eersdaags die geleentheid om ’n bydrae te lewer oor die toekoms van ruimtelike beplanning en ontwikkeling in dié wyk.
Die Stad Kaapstad hersien en formuleer tans die distriksplanne vir ruimtelike ontwikkeling, grondgebruik en boubeheer vir die komende vyf tot 10 jaar.
’n Konferensie vir eienaars om insette in die verband te lewer, vind op 19 Mei in die Rusoordsaal in Brackenfell plaas.
Volgens Marian Nieuwoudt, wykraadslid en Subraad 2-voorsitter, is die uitbreiding en belegging in die groter Brackenfell-gebied in die afgelope jare grootliks ’n gevolg van ’n duidelike ruimtelike struktuurplan.
“Ruimtelike beplanning is soos die fondamente van ’n huis. Hoe en waar die fondamente gelê word, bepaal wat daarop gebou kan word. Die Stad se ruimtelike plan is ook die voorloper vir die infrastruktuurplan en gevolglike begroting,” verduidelik sy.
“Die doel van die konferensie is om vir ons gebied duidelike, sinvolle ruimtelike beplanning te doen, wat verseker dat ons die belegging wat elkeen maak in terme van finansiële en sosiale kapitaal saamsnoer tot ’n vooruitstrewende en volhoubare stedelike gebied,” sê Nieuwoudt.
Sy benadruk die belangrikheid vir elke inwoner en belegger in die stad om sy of haar inset te gee in die beplanning.
“Deeglike beplanning en die inkoop van die gemeenskap in die afgelope jare het verseker dat die gebied een van Kaapstad se bes-presterende eiendomsmarkte vir residensiële, ligtenywerheids-, pakhuis- en verspreidingsektore geword het.”
Maar die huidige verandering in werkstoestande, waar baie mense nou van die huis af werk en groeiende tegnologie, sê Niewoudt, het ander behoeftes en geleenthede na vore gebring.
“Daar is ’n beduidende aantal mense wat óf deeltyds óf voltyds óf volgens ’n hibriede model van die huis af werk, wat gelei het tot ander gedragspatrone. Meer mense bly deur die dag in Brackenfell en koop dus nou plaaslik. Vinnige en betroubare konnektiwiteit is nou noodsaaklik. Gesinne en ouers woon ook meer kere noodgedwonge by mekaar, wat groter huishoudings tot gevolg het. Die groei van e-aankope en aflewering is beduidend, wat ook sy eie verkeersuitdagings bied,” sê Nieuwoudt.
Daarmee saam, sê sy, is Brackenfell ook nou baie duidelik ’n bestemming vir die logistieke, verspreidings- en pakhuissektore.
“Hiermee het ook nuwe uitdagings gekom ten opsigte van die bestuur van infrastruktuur, gemeenskapsfasiliteite en die uitdagings van verstedeliking. Die tyd is dus geleë om te besin en opnuut te bepan vir die volgende 10 jaar,” sê sy.
Bespreking en insette sal bestuur word deur Johan Beukes as fasiliteerder.
Die konferensie vind plaas op 19 Mei vanaf 12:30 by wyse van ’n virtuele platform. Daar is plek vir 40 mense in die Rusoordsaal in Dennegeurstraat, Proteahoogte. Stuur ’n e-pos na LetitiaMartha.Niemand@capetown.gov.za vir Zoom-toegang en/of plekbespreking by Rusoord.





