Soos iets in ’n wafferse fliek het die brandweer, die dierebeskermingsvereniging en bure verlede week saamgestaan om ’n jong papegaai in Chrismar te red.
Nelmarie Strydom, die eienaar van dié African Grey-papegaai, sê sy het juis nog nie die voël se vlerke geknip nie omdat sy wou hê sy moet nog ontwikkel. Sy het Zoey in Desember gekry en het reeds sewe ander volwasse African Grey-papegaaie.
“Sy lyk al soos ’n volwasse voël, maar eet nog baba-pap en toon die gedrag van ’n baba,” sê Strydom.
Strydom en haar man het die voordeur verlede Maandagaand oopgelos en Zoey is “soos ’n pyl uit ’n boog” daar uit.
“Ek was lam van skok – ek het glad nie gedink sy kan só goed vlieg nie; sy is immers nog nie eens drie maande oud nie.”
Zoey het hoër en hoër gevlieg en ongeveer agt meter hoog in ’n boom in ’n parkie oorkant hul huis gaan sit.
“Ek het als probeer om haar daar af te kry – ons het haar pap gaan haal; haar hok; selfs een van die ander voëls, maar niks was suksesvol nie.”
Bure het probeer help, maar dit het ook op ’n nulletjie uitgeloop.
Strydom sê sy het toe besluit om die brandweer te bel, al was sy bekommerd oor die koste.
Die brandweer het egter gesê dit is ’n saak vir die dierebeskermingsvereniging en dat hulle die organisasie sou kontak.
Strydom het gewag tot 20:30 en in die donker huis toe gegaan.
“Kwart oor nege daardie aand het die deurklokkie gelui en dit was iemand van die Kaap de Goeie Hoop-DBV,” sê Strydom, wat steeds uit die veld geslaan is oor hul hulp. Dié tak is in Grassy Park geleë. Sy en die DBV-lede Jaco Pieterse en Elani Steenkamp is na die boom waar Zoey gesit het. Die DBV het die Bellville-brandweerstasie gebel en dié het teen 21:45 aangekom.
Almal het later hand bygesit om die boom nat te spuit om te kyk of Zoey nie uitval nie, maar tevergeefs.
Strydom sê sy was teleurgestel, maar was “ontsettend dankbaar vir hul bereidwilligheid om daardie tyd van die aand uit te kom en só hard te werk om my en Zoey te herenig”.
Die volgende oggend, teen 05:30, was Strydom weer by die boom – net om te sien Zoey het twee bome verder gevlieg.
“Ek kon sien hoe graag sy wou afkom, maar sy het nie geweet hoe nie. Sy het seker 15 meter hoog in hierdie boom gesit!”
Strydom sê sy het baie magteloos gevoel, maar moes werk toe ry.
Inwoners het haar deurentyd laat weet Zoey sit nog in die boom.
Later die dag het sy weer die Kaap de Goeie Hoop-DBV en gevra of hulle nie weer – nou in die daglig – kon kom help nie.
Dié keer het Bryan Arendse kom help.
’n Ander span brandweermanne het ook opgedaag en saam het hulle almal weer probeer om Zoey met ’n brandslang af te lei, terwyl Strydom en ander onder die boom met ’n vangnet gestaan het.
Later het Bryan teen die heining van die Jukskeisaal opgeklim tot by ’n boom waar Zoey teen daardie tyd was en ’n tak by die voël gebreek. Sy het in die vangnet geval.
“My hart het uit my keel gespring van vreugde en trane van blydskap en dankbaarheid teenoor die Here en hierdie span mense wat Hy gestuur het,” sê Strydom.
Sy sê sy is ewig dankbaar aan die DBV en lede van die Bellville-brandweerstasie, wat die volgende insluit: Gene Brand, Msimbiti Mbalu, Carlo Mazzoncini, Zakhele Matomela, Dirk Steenkamp Kevin Manuel, Charra Fortuin, Vox Vokonqo, “Flowerday” Flowerday en Joe Mshazi.
“Elkeen van daardie lede verdien meer as ’n medalje.”





