Mushfiqah Daniels (regs) klop ’n teenstander aan die buitekant. As alles volgens plan verloop, gaan sy eersdaags oorsee gaan speel.

Credit: SYSTEM

“Afrigters het my nie gemaak nie; die strate het my gemaak.”

Dit is die woorde van Mushfiqah Daniels van Bonteheuwel, wat eersdaags haar sokkertalent in Spanje gaan vertoon.

Die 15-jarige Mushfiqah is deur die BT Sokker-werwingsagentskap gekies om in Maart op ’n vertoontoer na Spanje te gaan. Daar gaan sy en haar spanmaats vyf vertoonwedstryde speel, by die beste oefengeriewe van professionele klubs oefen en wedstryde van Spaanse sokkerreuse soos Real Madrid bywoon.

Haar trotse pa, Erfaan Fraser, ook ’n sokkerspeler, sê hy het vroeg reeds sy dogter se talent raakgesien. “Van kleins af het sy in die straat en in die parkie oorkant die huis saam met die seuns sokker gespeel. Vriende wat haar sien speel het, het altyd kom sê ‘daai kind van jou is anie brand’. Daar het ons gesien ons moet haar ondersteun,” sê Erfaan.

Volgens Erfaan het Mushfiqah ook haar hand aan netbal gewaag, maar later gesê sy wil sokker vir ’n klub speel. “Ons het haar aanvanklik by Bonteheuwel United ingeskryf, waar sy met die seuns gespeel het. Later het ons van Burnley-sokkerklub gehoor en haar daar ingeskryf. Daar het sy net van krag tot krag gegaan. Sy het toe vir proewe gegaan by BT en is gekies om in Spanje te gaan speel,” sê Erfaan.

Groot hart

Buiten dat sy ’n talentvolle sokkerspeler is, het Mushfiqah ook ’n groot hart, sê haar pa.

“Sy is altyd die een wat haar spanmaats motiveer om harder te werk en beter te vaar op die veld. Jy sal altyd sien sy praat met haar spanmaats. Van die veld af sal sy vir my kom sê wanneer een van haar spanmaats met iets sukkel. Sy gee om vir mense en vergeet nie waar sy vandaan kom nie. Sy het haar sokker in die strate van Bonteheuwel geleer. Haar droom is om eendag vir Banyana Banyana, Suid-Afrika se nasionale vroue-sokkerspan, te speel,” sê hy.

Mushfiqah sê sy stel God altyd eerste in alles wat sy doen. “Ek droom groot en dit is om van sokker ’n lewe te maak. ’n Mens kan egter nie net droom nie en daarom werk ek hard. Ek hoop die toer na Spanje gaan nog deure vir my oopmaak,” sê sy.

Om in Spanje te kom vir die toer tussen 21 en 31 Maart, kort Mushfiqah R48 000. As iemand daarin belangstel om Mushfiqah by te staan, kan hulle haar ma, Gouwa Fraser, by 084 706 4816 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article