Ajay Wonderboy mik nou na Brittanje.


As alles volgens plan verloop, gaan ’n jong seun van Delft eersdaags sy sangtalent in Brittanje wys.

Ajay Pienaar, oftewel Ajay Wonderboy, maak die afgelope tyd groot opgang in die musiekbedryf en nou mik hy daarna om sy talente op een van die grootste verhoë, Britain’s got talent, te wys. Hierdie talentkompetisie is een van die gewildste ter wêreld en baie internasionale sterre is daar gebore.

Mzansi-jeugkoor

Meer onlangs het die Mzansi-jeugkoor die beoordelaars en die gehore in vervoering gehad by die Amerikaanse weergawe van die program. Dis juis nadat Ajay se pa, die vermaakkunstenaar Ashley Pienaar, gesien het hoe goed dié koor vaar dat hy die idee gekry het.

“Ek het ’n vriend wat in Engeland woon en hulle het oudisies in Manchester gehou waar hy woon. Hy laat weet my toe daar is baie klein kinders by die oudisies. Volgens hom het die beoordelaars ’n sagte plek vir kinders en voel hulle ook, hoe jonger die kunstenaar, hoe verder kan hulle die kind se loopbaan ontwikkel,” sê Ashley.

Talent

Volgens Ashley het hulle besef Ajay het talent toe ’n gr. R-juffrou by die Laerskool Pinedene die leerders laat sing het. “Hulle het ‘We are the world’ gesing en die juffrou was baie ‘opgemaak’ met hom. Hy is toe gevra om voor te sing en die koor het hom ondersteun. Ek het die vertoning bygewoon en was verras om te hoor hoe goed my kind sing. Kort daarna was ek seremoniemeester by die aanskakeling van die Kersliggies in Stellenbosch en het toe gevra of hy kan optree. Daar het hy meer as 3 000 mense in ekstase gehad. Ons het toe begin om bietjie aan hom te skaaf,” sê Ashley.

Verskillende genres

Ajay sing in verskillende genres, maar is veral versot op ballades. Hy het ook onlangs rymklets ontdek, maar volgens sy pa is skoolwerk sy eerste prioriteit. “Hy werk akademies hard en is ook fanaties oor Lego bou. Ons probeer hard om hom gebalanseerd te hou,” sê sy pa.

  • Vir Ajay om in Brittanje te kom, het hulle nog geld nodig. Enigeen wat ’n bydrae kan lewer om hom te help om sy drome te bewaarheid, kan Ashley by 071 956 1825 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article