’n Jong skrywer van Uitzicht in Durbanville, Leané Giliomee (20), het onlangs haar droom bewaarheid om haar eerste boek te publiseer.
En terwyl meer as 100 eksemplare van die boek If the crown fits, wat in Oktober die lig gesien het, reeds verkoop is, is Leané reeds hard aan die skryf aan ’n opvolg vir die boek.
Volgens Leané, wat in 2020 met tuisonderrig by “Switched On Education” gematrikuleer het, is die boek ’n fantasie-verhaal gemik op jong volwassenes.
“Dit gaan oor ’n dief wat betrap word terwyl sy iets van ’n koninklike familie steel, maar in plaas daarvan om haar te laat opsluit, gebruik die prins haar om vir hom iets te steel. Elemente in die boek sluit in ’n towerwoud, romanse, koninklikes, verraad en ’n gesogte kroon. Ek was nog altyd mal oor feë-verhale en wou graag ’n verhaal skryf gemik op tieners en ouer lesers,” sê Leané.
Dit het haar sowat ’n jaar en ’n half geneem om die boek so tussendeur haar studies te skryf. “Ek wou ’n skrywer wees vandat ek 13 jaar oud was. Ek het ontdek ek het ’n passie vir skryf en ek wou net nie ophou nie,” sê Leané.
Sy is egter nie seker waar sy haar skryftalent vandaan kry nie. Haar pa, Mattheus, ’n voormalige kaptein by SA Express, is tans hoof van opleiding by ’n vliegskool. Haar ma, Marisan, het wel kreatiewe talent en het voorheen binneversiering gedoen. Sy is tans ’n eksterne bemarker by BSi Steel.
Leané deel haar ma, wat perdeterapie doen, se liefde vir perde en gee perdry-lesse in haar vrye tyd. “Ek was nog altyd mal oor perde vandat ek ’n klein dogtertjie was. Ek dink dit is nie net fantastiese oefening vir ’n mens se lyf nie, maar ook vir jou kop en denke,” sê Leané.
Haar raad aan ander jong aspirantskrywers is om te weet die eerste weergawe gaan nie perfek wees nie. “Kry eers die woorde in swart op wit. En dan skaaf jy aan die storie, totdat dit perfek is.”
If the crown fits is deur Lavender Moon Publishing gepubliseer. Dit is beskikbaar by uitgesoekte boekwinkels asook in e-boek-formaat by Amazon.
’n Getekende kopie kan bestel word deur e-pos na stellacampbell10132@gmail.com te stuur.




