Jonathan Butler by ‘n onlangse vertoning in Amerika.

Alden Fukushima

Die familie van die legendariese Kaapse sanger Jonathan Butler glo daar is nog van sy soort in die gemeenskap van Elsiesrivier.

Jonathan is in Elsiesrivier gebore en het as kinderster reeds sy groot deurbraak gemaak en het op ’n moeilike tyd in Suid-Afrika se geskiedenis op groot verhoë in die land opgetree. Hy het later na Amerika uitgewyk waar sy aansien net gegroei het en waar hy steeds as ’n beroemde jazz- en gospelsanger optree.

Intussen is sy familie hier besig om deur die Butler Youth Movement nuwe, jong musiektalent in die gemeenskap te ontgin.

“Almal weet hoe rof dit in Elsiesrivier en omgewing gaan, maar dit hoef nie al te wees waarvoor ons bekend is nie. Hier is baie rowwe diamante wat net wag om blink gevryf te word. Ons wil ’n verskil in die jongmense se lewe maak deur hulle aan musiek bloot te stel,” sê Michael-John Sias, ’n susterskind van Jonathan en die voorsitter van die organisasie.

Die organisasie is in 2014 gestig met die hoofdoel om kinders van die straat af te kry.

Beter lewe

“Ons visie is dat elk van die kinders leer om ’n instrument te bespeel sodat hulle hulself kan bemagtig. Musiek kan ’n middel wees waardeur hulle armoede kan verlig en ’n beter lewe vir hulself uitkerf. Meer nog wil ons hul gedagtes verander sodat hulle weet die wêreld is ’n beter en groter plek as waaraan hulle gewoond is. Dit is hoekom ons ook die kinders lewensvaardighede aanleer. Klein dinge soos hoe om met mekaar te praat, is baie belangrik,” sê Sias.

Verskeie instrumente

By die organisasie word kinders geleer hoe om blaas- en houtinstrumente te bespeel, musiekteorie te verstaan, hoe om liedjies te skryf en vele ander musiekverwante vaardighede.

Klasse vind elke Saterdag van 14:00 tot 17:00 by die Laerskool Range plaas.

Sias het ’n beroep op lesers gedoen om instrumente wat hulle nie gebruik nie, aan hulle te skenk.

  • Stuur ’n WhatsApp-boodskap na Sias by 083 669 7623 vir meer inligting oor hoe om aan te sluit of om ’n skenking te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article