Vir Bothasig se mees bekende inwoner, Johnny Davids, is daar geen perke aan sy talent nie.
Dié gewilde televisie- en radio-aanbieder, wat lesers se voorkamers byna elke aand besoek op programme soos Kwêla en Ysters op die landgoed op kykNet, het pas ’n splinternuwe boek, getiteld Boytjie, uitgereik.
Davids het aan TygerBurger vertel dat die idee vir sy boek al ’n dekade gelede by hom ontstaan het. “Die idee vir my memoires is al 10 jaar gelede gebore, maar ek het eers verlede jaar die moed bymekaar geskraap om dit te begin skryf.
“Ek het so ses maande aan die skryfproses spandeer, want ek moes bietjie navorsing gaan doen, omdat ek nie baie van my kinderjare kon onthou nie,” sê hy.
Storie nie uniek
Boytjie is sedert Vrydag 26 Julie amptelik in alle boekwinkels beskikbaar.
“Ek het besef dat my storie geensins uniek is nie, en dat daar steeds, op ’n daaglikse basis, mense is wat gekonfronteer word deur armoede, verwyt, mishandeling en depressie. Boytjie is ’n storie van hoop – my storie van hoop. Van ’n klein seuntjie wat sonder ’n ma en pa moes grootword, maar nooit ophou droom het nie – nooit ophou glo het in beter omstandighede nie, en aanhou bly veg het, met die genade en guns van die Here.”
Davids sê verder daar is wel iets wat elkeen uit die boek kan wegneem en leer.
“Elkeen van ons moet weet en besef dat jou huidige omstandighede, hoe moeilik dit ook al mag wees, kan verander. Dit verg deursettingsvermoë, guts en harde werk. Maar dit begin by jouself. Die wêreld daarbuite skuld jou absoluut niks. Ons moet ophou om ander mense en omstandighede die skuld te gee. Apply your mind,” sê hy.
“Die Woord van die Here sê in Jakobus 4 vers 8: “Nader tot God, en Hy sal tot jou nader.” Boytjie se storie is nie ’n pity party nie. Dit is ’n storie van hoop.”
Boytjie is Davids se heel eerste boek uit sy pen. “Die skryfproses was makliker omdat dit my eie storie is. Ek sal graag in die toekoms weer ’n boek wil skryf,” sê hy.
“Ek is ook ’n sanger en liedjieskrywer, en het onlangs my splinternuwe enkelsnit ‘Nuwe Naam’ die lig laat sien – ’n liedjie wat my lewensverhaal ondersteun. Die Here wat vir Boytjie gevat het, en hom die nuwe naam kom gee het van Johnny Davids.”
Advies
Davids is ook gevra oor wat sy advies is aan jong mans, wat dalk deur soortgelyke uitdagings as hy as kind in die gesig gestaar word.
“Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op ons as mans. Om ons samelewing ’n beter plek te maak, kort ons standvastige mans. Manne met inbors.





