Dr. Pieter Spies, ’n urologiese chirurg, spreek die media buite die teater toe.FOTO: Richard Roberts


In ’n hospitaalteater is ’n urologiese chirurg en sy mediese span besig om ’n hoogs sensitiewe operasie uit te voer op ’n pasiënt wat aan prostaatkanker ly.

Die teater is tjoepstil en net die uroloog is aan die woord terwyl hy ’n prostaatklier met behulp van ’n robot verwyder. Bo hul koppe word die prosedure op twee platskerms uitgebeeld. Die operasie is ’n langdurige prosedure; dit neem sowat drie ure om te voltooi, sê die dokter.

Dít was die ervaring van verskeie joernaliste verlede Woensdag tydens ’n besoek aan die Tygerberg-hospitaal, waar die media ’n unieke kans gegun is om eerstehands te aanskou hoe dokters in ’n hospitaalteater te werk gaan.

Drie tersiêre hospitale, insluitend die Tygerberg- en Groote Schuur-hospitaal, asook die Rooi Kruis-kinderhospitaal, het die oggend hul deure vir dié doeleindes oopgemaak.

Die doel daarvan was om chirurgiese uitnemendheid te vertoon.

Joernaliste kon ook aanskou wat ’n tipiese dag in die lewe van ’n chirurg behels. Die chirurge het verduidelik watter soorte operasies by hul hospitale uitgevoer word, hoekom hulle oor hul beroep passievol is en ook vertel watter gevalle hulle die meeste bybly.

Robot ingespan

By Tygerberg het dr. Pieter Spies (41) , ’n urologiese chirurg, die media toegespreek. Spies en sy mediese span was die oggend besig om ’n radikale prostatektomie op ’n 60-jarige kankerlyer uit te voer.

Joernaliste kon sien hoe Spies met behulp van die Da Vinci Xi-stelsel, ’n tegnologies gevorderde chirurgiese robot wat die dokter in staat stel om die operasie uit te voer, die pasiënt opereer en sorgvuldig ’n prostaatklier verwyder.

Die robot vorm deel van die hospitaal se Da Vinci- chirurgiese robotprogram wat in Oktober verlede jaar daar bekend gestel is deur die Wes-Kaapse departement van gesondheid.

“Ons doen so tussen 75 en ’n 100 sulke gevalle elke jaar. Met die robot doen ons sowat 45 – dis grotendeels weens ’n tekort aan hulpbronne.

“Ons probeer om die gevalle te bestuur. Ons kan nie almal met behulp van die robot opereer nie; dit is baie duur. So ons kies die gevalle sorgvuldig wat daarby baat sal vind,” sê Spies.

Die gebruik van die robot in operasies, spesifiek in urologie, is sedert die laat 1990’s in plek.

“Die tegnologie is deesdae gevorderd. Hier in Suid-Afrika het ons die eerste masjien in 2013 in gebruik geneem.

“Dit is al die afgelope 10 jaar in privaat hospitale in gebruik, en Tygerberg-hospitaal is die eerste openbaresektor-hospitaal wat toegang tot dié stelsel het. Ek is trots om te sê dat ons waarskynlik die mees gevorderde stelsel in die land het,” sê Spies, wat al 12 jaar lank operasies uitvoer.

Daar is in November verlede jaar met die operasies begin, sê hy.

Spies sê daar is nooit ’n vervelige dag in dié bedryf nie. “Ons sien baie interessante gevalle.”

Een van die hoogtepunte in sy loopbaan was die eerste suksesvolle penis-oorplanting wat by die Tygerberg-hospitaal uitgevoer is. “Daai aand het ons omtrent 13 of 14 ure geopereer. Dit was ongelooflik om deel te kon wees van die ervaring. Dit was een van die mees interessante aande.”

Pandemie het ook impak gehad

In die Covid-19-pandemie was die teaters egter stil.

“Ons hulpbronne is aan Covid-19-teatersale toegewy. Ons chirurge het in die Covid-eenhede uitgehelp. Dit was nogal frustrerend vir chirurge,” sê Spies.

Dit het hulle egter kans gegee om oor hul metodes na te dink, hul vaardighede op te skerp en te studeer, iets waarvoor hulle bitter min tyd kry.

Hy sê die ding waarvan hy die meeste hou in sy beroep is die spanpoging wat daarmee gepaard gaan. Spies sê chirurgie is soos ’n sportspan wat bestaan uit teaterpersoneel en ’n chirurgiese span.

“Die pasiënte is die hoogtepunt van my dag. Daar is nooit ’n vervelige dag nie; jy word elke dag uitgedaag om probleme op te los wat waarskynlik ’n pasiënt se lewe op ’n persoonlike vlak verwoes.

“Dit is die uiteindelike bevrediging van my werk,” sê hy.

Die mees uitdagende deel van sy beroep is tydbestuur, sê Spies.

Om ’n veeleisende, lang ure- en stresvolle werk te balanseer met familie en die lewe daar buite is ’n uitdaging, sê Spies.

Hy vang in sy vrye tyd vis, jag, kampeer en spandeer tyd saam met sy gesin en kinders by Somerset-Wes se Voortrekkers.

Die urologie-buitepasiëntdepartement by die hospitaal behandel sowat 210 pasiënte per week van reg oor die provinsie.

Daar is ’n toegewyde urologie-saal met altesame 28 beddens, wat die meeste van die tyd gevul is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article