Vir die nuwe adjunk-wetstoepassingshoof Jason Hamilton het sy droom van ’n positiewe bydrae om gemeenskappe veiliger te maak, waar geword deur sy loopbaan in veiligheid.
Hamilton, wat in Manenberg grootgeword en aan die Sekondêre Skool Silverstream gematrikuleer het, het sy loopbaan vir twee jaar as sekerheidsbeampte begin.
Hy het toe by die departement van gemeenskapskorreksies in Mitchell’s Plain aangesluit voor die polisiediens, waarna hy in 2012 as hoofinspekteur by die Stad se wetstoepassingsafdeling aangesluit het.
Hamilton word beskryf as ’n innoveerder en het baie programme en projekte binne wetstoepassing begin wat steeds aktief is, soos die buurtveiligheidspanne en die wetstoepassingshulpprogram.
In Desember 2019 het hy die direktoraat vir veiligheid en sekuriteit se Beampte van die Jaar-toekenning verower.
Hy is daarna aan die begin van vandeesmaand as adjunkhoof van die departement aangewys.
“Die polisiëringsomgewing is steeds besig om te verander en as bestuurder sal ek moet aanpas, veral by tegnologie en data-analise om te help met die bekamping van misdaad.
“Ek is ’n positiewe en optimistiese individu en ek floreer daarin om my laagtepunte om te draai,” sê Hamilton.
JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, sê Hamilton het bewys dat hy ’n toegewyde beampte is “wat van plan is om ’n verskil te maak in die gemeenskappe wat hy dien”.
“Ek weet hy sal daardie toewyding en entoesiasme na sy nuwe rol bring. Sy harde werk het vrugte afgewerp en die direktoraat is die beste om hom aan ons kant te hê,” sê Smith.





