Janica Louw, ’n mode-ontwerper van Parow-Noord, het onlangs met die titel Mej. Dowe SA Fotogenies 2022 weggestap.
Sy het op Saterdag 3 September aan die Mej., Mnr. en Mev. Dowe SA-skoonheidskompetisie deelgeneem.
Die geleentheid is by The Playhouse in Durban, KwaZulu-Natal (KZN), gehou.
“Dit was ’n wonderlike ervaring om deel te wees van die kompetisie en ek is baie dankbaar om te kon deelneem. Ek het ondervinding opgedoen, so baie geleer en goeie vriende gemaak.
“My selfvertroue het baie gegroei.
“Al was ons meisies in kompetisie met mekaar, het ons wonderlike vriendskappe gesmee en dit is vir my baie kosbaar. Ons kon ons uitdagings deel wat ons ervaar in die horende wêreld, en ons kon van mekaar leer.
“Daar is nog baie bewusmaking wat gedoen moet word om ons dowe wêreld toeganklik te maak vir horendes, en sodoende word die horende wêreld ook toeganklik vir dowes,” sê Janica.
September is ook Dowe-bewusmakingsmaand.
“En ek wil horendes aanmoedig om iets van die Dowekultuur te leer,” sê sy.
Janica het vroeër aan TygerBurger gesê sy hoop om deur middel van die kompetisie ’n goeie ambassadeur vir die Dowe gemeenskap te word.
Die 23-jarige het modeontwerp aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie gestudeer en het verlede jaar haar graad gekry. Sy besit ook haar eie klerereeks.
“My toekomsplanne is om my handelsnaam uit te brei en uitrustings te maak om vroue spesiaal te laat voel,” het sy vroeër gesê.





