Die “spruit” by die Hoopstraatbrug aangrensend aan die Hoërskool De Kuilen se sportvelde en oorkant Spruitstraat. Links is die inlaat van die 600 mm-pyp wat De Beer sê meestal toegeslik is. Foto: Carina Roux


Moet inwoners in Klipdam bekommerd wees oor die risiko van oorstromings weens die stormwaterstelsel in die gebied, of nie?

Sarel de Beer, wat al meer as 50 jaar in Plantanusstraat in Klipdam woon reken die “oudorp”-gedeelte onderkant Amandelweg word afgeskeep.

Die stormwaterstelsel aan Bosonia en Klipdam se kant van Amandelweg (tussen Kerkstraat en Langverwachtpad) is nie op dieselfde standaard as wat die stelsel aan die ‘‘bokant’’ is nie, sê hy.

Die waterweg (afvoersloot en pypstelsel) langs Langverwachtpad, vanaf die Zevenwacht-skakelpad tot by die sirkel met Amandelweg, is ‘‘uitstekend’’ en nou deurgaans 9 m wyd en 2,5 m diep, sê De Beer.

Die nuwer gedeeltes van Langverwachtpad wat dubbelbane gekry het, is ook versink en het randstene, maar die ouer pad onderkant die Amandelweg-sirkel, rigting Van Riebeeckweg, lê grotendeels hoër as die omliggende oppervlaktes.

De Beer sê die ouer Langverwachtpad het ook “nie randstene of ’n stormwaterdreineringstelsel nie. Daarom is daar geen beheer oor stormwater nie”.

Volgens De Beer lê die grootste probleem met die gebied se stormwaterstelsel egter by die spruit (waterweg) en watertonnels naby die Laerskool Mikro in Spruitstraat. Die spruit (eens ’n natuurlike riviertjie) is met ontwikkeling in die gebied aangepas.

De Beer sê daar ontstaan ’n bottelnek omdat die watertonnels voor Mikro, asook by Piet-my-vrou-straat, te klein is.

“Met hoogwater of vloed stoot die water dan terug in die pad.”

Plantanusstraat, wat afwaarts vanuit Spruitstraat loop, het egter ’n opdraande waar dit aan die anderkant by Langverwachtpad aansluit. As water dus hier straat af stroom, dam dit aan die onderkant op.

De Beer sê van 1966 tot 2004 was daar storms, maar nooit enige oorstromings in Klipdam nie.

Voorheen is reënwater op ’n natuurlike wyse deur die hoofsaaklik sanderige grond, in wat toe grootliks landbougebied was, geabsorbeer.

Foto’s wat De Beer geneem het wat dui op die verskille in die stormwaterstelsel aan Klipdam se kant van Amandelweg (links) en bokant Amandelweg, langs die nuwer gedeelte van Langverwachtpad, toe onder konstruksie.

Soos Kuilsrivier al meer in ’n suidoostelike rigting ontwikkel het, het die situasie verander. De Beer sê met die eerste vloed op 10 April 2005 is grensmure platgevee en is huise in die buurt oorstroom. 

Ná ’n tweede vloed in Julie 2008 het De Beer namens inwoners met die munisipaliteit in gesprek getree. Hy het voorgestel dat die 1,18 m ronde waterpyp by Mikro vergroot moet word tot ’n watertonnel van 4,8 m by 1,8 m (8,6 m²).

Die pyp is in 2009 wel vervang, maar De Beer sê dit is die verkeerde grootte met ’n “deurlaat van 1,88 m²”. Sedertdien, was daar op 16 September 2016, 27 Januarie 2017, 1 Junie 2018 en 25 Mei 2020 weer oorstromings in die buurt, sê De Beer. 

Volgens De Beer is die stormwaterstelsel eintlik “onderstebo” omdat dit laer af in die rigting van Van Riebeeckweg “vernou”. 

Die Stad het in 2018 groter pype (was 300 mm en nou 600 mm) in Plantanustraat en in Hoopstraat gelê.

Dit was egter ’n vermorsing van geld, sê De Beer. “In Plantanusstraat is die vernouing na die Hoofweg (Van Riebeeckweg) nog steeds onopgelos. By Hoopstraat lê die pyp steeds laer as die spruit se vloer. Die 600 mm-pyp se mond slik elke jaar toe.” 

Verlede jaar het De Beer die burgemeester se kantoor genader. Dan Plato, voormalige burgemeester, het self kom kyk. 

Plato het op ’n vergadering op 23 April verlede jaar volgens De Beer gesê finansiering is “goedgekeur vir die opknapping van die spruit en Langverwachtpad”.

In Junie verlede jaar het Johannes van der Merwe, subraad 21 se voorsitter, ’n vergadering met munisipale amptenare en De Beer gereël. 

Volgens De Beer het Franz von Moltke (hoof van wateropvangsbeplanning: Oos) op die vergadering gesê die spruit tussen Kerkstraat en Amandelweg is in so ’n verwaarloosde toestand dat dit te duur sal wees om dit te omskep tot dieselfde toestand as die een langs Langverwachtpad bokant Amandelweg, en dat ’n opgaardam naby die Laerskool Mikro ’n meer bekostigbare oplossing sal wees. 

“Van Moltke het ook gesê ’n groter pyp (culvert) is nodig by die Amandelweg en Piet-my-vrou-straat-kruising,” sê De Beer.

De Beer was onder die indruk dat geld reeds hiervoor goedgekeur is en dat Van der Merwe dit so deurgegee het op die vergadering. 

Van der Merwe het by navraag van TygerBurger geantwoord dat hy na kapitale projekte in die begroting van 2021/’22 (tot 2023/’24) verwys het, wat deur die raad op 26 Mei verlede jaar goedgekeur is, naamlik twee padprojekte (verbetering van Amandelweg tussen die Bottelaryrivier en Kerkstraat teen R70 miljoen, en die verlenging van Saxdownweg tussen Langverwacht- en Van Riebeekweg teen R72,4 miljoen).

Van der Merwe het daarop gewys dat die notule van die vergadering meld dat Von Moltke gesê het “no capital work will be done on the stormwater system during the MTREF (3-year) period.”

Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike beweeglikheid, sê die Stad se padinfrastruktuurdepartement wat met De Beer en die subraadamptenare vergader het, het verduidelik dat daar onderskeidelik gekyk word na stormwateropvangs op ’n groter/streekvlak en op ’n meer plaaslike vlak.

Hy sê wat die plaaslike opvangsgebied betref, het die departement voldoende maatreëls getref, naamlik: ’n 600 mm-deursnit pyp is gelê vanaf die lae punt in Plantanusstraat tot by Langverwachtpad, en vandaar is ’n 750 mm pyp gelê tot by die R102 (Van Riebeeckweg). Die grootte van die pyp maak voorsiening vir ’n 1:50 jaar-vloed in die plaaslike opvangsgebied. 

Volgens Quintas het die Stad se afdeling gemoeid met die bestuur van stormwater en riviere verlede jaar tydens ’n voorlegging aan De Beer verduidelik dat voorsorg gemaak word vir ’n 1:5 jaar-vloed en vir ’n 1:50 jaar-vloed. “Die pype by Mikro maak voorsiening vir ’n 1:5 jaar-vloed. Dit is nie groot genoeg vir ’n 1:50 jaar-vloed nie, en so ’n verbetering is nie (tans) in die driejaar- begrotingsiklus (van die Stad) nie.”

Finansiering gaan tans om stelsels te installeer om 1:5 jaar-vloede te hanteer voordat die Stad sy stelsel gaan verbeter om groter vloede te kan hanteer.”

De Beer beweer Von Moltke het toegegee dat die verkeerde grootte pyp by Mikro gelê is (in 2009), maar dit word in Quintas se antwoord ontken. Hy het blykbaar gesê, “dit is te klein vir ’n 1:50 jaar-vloed, maar perfek vir ’n 1:5 jaar-vloed.”

Met verwysing na Langverwachtpad sê Quintas dat ’n rekonstruksie of versinking van die ouer gedeelte van die pad ongelukkig nie moontlik is nie weens die ligging van die R102 (Van Riebeeckweg) en die reeds gevestigde padkruisings. 

Quintas het nie in sy antwoord ’n spesifieke tydraamwerk gegee oor moontlik verbeterings aan die stelsel plaaslik tot die 1:50 jaar-vloedvlak nie, soos byvoorbeeld die moontlikheid van ’n opgaardam by Mikro. 

Volgens ’n afdruk van die voorlegging wat Von Moltke gedoen het, sluit voorstelle gebaseer op die 1:50 jaar vloedvlak ’n 17 000 m³-opgaardam by Mikro, die groter pyp (culvert) by die Amandelweg en Piet-my-vrou-straat-kruising, ’n oop kanaal langs Diederikkiestraat, ’n pyp deur die Laerskool Mikro se parkeerarea en ’n moontlike kanaal/pyp langs die Hoërskool De Kuilen in.

De Beer het verlede jaar briewe van verskeie belanghebbendes, waaronder van sy bure wat al vloedskade gehad het en ander soos die Hoërskool De Kuilen, Patrysies-kleuterskool, Junior Kiddies Campus (oor die spruit), en Kuilsrivier Suid-gemeente, Dr. Maré Olivier, en Le Setra drukkery (oor afvloei langs die ouer Langverwachtpad), aan die burgemeester en subraad oorhandig.

Natascha Jones van die Patrysies-kleuterskool op die hoek van Spruit- en Syringastraat, sê dit gebeur dat water oor die spruit se wal stroom en in Spruitstraat afloop. 

“Met harde reën in die winter stoot die water oor die randstene en bemors mense se eiendom en die strate. Die afvoerwater is nie net vuil en onhigiënies nie, maar maak dit ook moeilik vir ouers om hul kinders by Mikro en Patrysies op te laai.” 

Sy sê dis egter ’n groter probleem in dele wat nog laer af as hul perseel lê. 

Gerrit van Rooyen van Plantanusstraat, sê wat tot dusver gedoen is blyk nie voldoende te wees nie. Buiten probleme met die afvoerstelsel sê hy die spruit naby Mikro is toegegroei met riete. wat telkens net afgesny word en bydra tot vervlakking.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article