Inwoners van Hockenheim sê hulle woon in ‘k*k-straat’

Riool stroom uit ’n drein voor die Hoërskool Fairdale in Hockenheimweg.

Credit: SYSTEM

Hul straat word nou al “k*k-straat” genoem, sê inwoners van Hockenheimstraat in Silversands.

Die gemeenskap van Silversands word al die afgelope vyf of ses jaar deurlopend geteister deur dreine wat oorloop. Dit het al so erg geraak dat inwoners nie eens meer hul vensters en deure wil oopmaak nie weens die stank wat in die lug hang.

Jolene Stevens, wat in Hockenheimstraat woon, sê daar is ’n drein reg voor haar huis. “Ek en my man hou daarvan om op die bankie in ons tuin te sit wanneer die son skyn. Weens die stank is dit nou baie onplesierig, maar erger nog, ’n mens kan duidelik menslike ontlasting sien rondlê,” sê Stevens.

Stevens sê bejaarde en siek mense woon ook in die buurt en die alewige stank kan nie goed wees nie. “Hier is twee skole in die straat en kinders moet deur die gemors loop om by hul skole uit te kom. Ek sal nie verbaas wees as iemand al in die riool getrap het en in die klas moes gaan sit nie,” sê sy.

TygerBurger het reeds by verskeie geleenthede oor die riool berig, maar elke keer het die Stad Kaapstad gesê dit is die gemeenskap se skuld. Volgens hulle gooi die gemeenskap glo rommel in dreine en dit veroorsaak blokkasies wat tot oorstromings lei.

Die gemeenskap het hierdie verduideliking verwerp en sê dit is weens gebrekkige infrastruktuur.

In Januarie het ’n groot waterpyp naby Silversands gebars, wat die gemeenskap en ander omliggendes sonder water gelaat het. Dit blyk dat daardie pyp ook vir die riool verantwoordelik is.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê ’n kontrakteur is aangestel om ’n ingestorte rioolpyp langs Hindleweg reg te maak.

“Werkers op die perseel is besig om rioolvlakke af te bring om oorstromings te voorkom. Die oorstromings voor die skool word ondersoek. Geen riool is tydens ’n ondersoek ter plaatse voor die skool aangetref nie,” sê Badroodien.

Intussen, sê Stevens, woon hulle in “k*k-straat”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article