Inwoners sit soms vir ure in verkeer vas, verwelkom padwerke in Bottelarypad

File photo of roadworks on Bosmansdam Road, Milnerton. PHOTO: RICHARD ROBERTS


Ten einde die hewige verkeersdruk op die Bottelarypad te verlig, word ’n R35 miljard-opknapping van die pad deur die Stad Kaapstad beplan.

Die konstruksiewerk sal later vanjaar begin.

Astronomiese ontwikkelingsgroei in die gebied het gelei tot die verkeersriller wat motoriste tans op die pad ervaar.

Daar word beplan om die pad tussen die R300-brug en Kruispad te verbreed tot vier bane – twee in elke rigting.

Werk is reeds aan die gang met die bou van glybane by die kruising van Saxdownrylaan en Brackenfell-boulevard, sowel as addisionele bane tot by Amandelweg in Kuilsrivier.

Volgens Marian Nieuwoudt, voorsitter van subraad 2, is die tenderproses vir die verbetering van Amandelweg en die brug reeds begin. Daar word geraam dat die werk in November sal begin. ’n Bykomende begroting is in Januarie uit die Stad se aanpassingsbegroting bekom, sê Nieuwoudt en voeg by dat die verbetering ook deur middel van ontwikkelingsvoorwaardes en -bydraes gedoen word.

“Die verkeersdruk is baie groot en gekompliseerd, want dis fietsryers, vragmotors, motors en voetgangers. Beide Saxdown- en Amandelweg dien ook as verbindings- en deurgangsroetes van naasliggende gebiede tot bestemmings nader aan die stad en Stellenbosch. Met die verbeterings behoort die wegvloei van die verkeer by die kruising beter te wees,” sê Nieuwoudt.

Hoop beskaam nie

’n Motoris, Michelle du Preez, sê “dis omtrent tyd” dat daar ’n plan gemaak word met die besige pad.

“Dit sal hopelik die verkeersvloei by Haasendal verbeter, veral smiddae,” sê sy.

Sy sê ’n holistiese benadering tot die probleem deur omliggende paaie op te knap, sal ook die verkeersdruk verlig.

“Soos byvoorbeeld, verkeersligte by Hellingstraat. Dit neem my soggens sowat 20 minute om die kort entjie van Jakarandastraat tot by Brackenfell-boulevard te ry.”

Cornelia van Rhyn stem saam. “Ek ry daagliks die Bottelarypad in en uit Proteahoogte in spitsverkeer. In dié stadium is die grootste probleem eintlik die paaie op pad na Bottelary. Ek ry soggens met Google Maps aan om die vinnigste roete te vind. Die kruising by Haasendal is vir my die ergste,” sê sy.

Silvia Pretorius sê dit sal ondanks verbeterings steeds baie gevaarlik bly om in Bottelarypad te ry weens die tekort aan wetstoepassing.

“Wetteloosheid en die algemene gedrag van bestuurders is ’n groot kommer vir motoriste op die pad.”

Martie Brits sê motoriste jaag onverskillig op die pad en Ian Brits meen taxi’s is die groot probleem.

Thea de Wet Swan sê sy wens die Stad wil eers die paaie groter maak voor hulle nuwe behuisingskemas, winkelsentrums en komplekse begin bou. “

Brackenfell is nie meer ’n plesier om in te bly nie,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article