Inwoners van sekere strate in Silversands sit met hul hande in hul hare oor hul elektrisiteit nooit aangegaan het ná beurtkrag nie.
Die nasionale kragvoorsiener, Eskom, het verlede Maandag begin om weer beurtkrag in te stel nadat die land vir ’n rukkie gespaar was.
Terwyl die res van die land ’n mate van berusting vind in die wete dat die krag op ’n gegewe tyd sal aangaan, het inwoners van Wein- en Bruschalweg in Silversands nie daardie sekerheid nie.
Volgens Shinaz Jeftha, ’n inwoner van Silversands, het hul krag net nie weer aangegaan nie. “Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Ons lewe al in vrees vir wanneer dit beurtkrag is, want ons krag kom nie aan nie,” sê Jeftha.
Wat nog meer frustrerend is, sê Jeftha, is dat hulle nie hulp kry nie. “Al die mense in ons straat het al klagtes ingedien, maar niemand kom uit om ons te help nie,” sê Jeftha.
TygerBurger is in besit van tien verwysingsnommers van inwoners.
Jeftha sê sy is ook die bestuurder van ’n mediese praktyk in die omgewing. “In die praktyk is ’n tandarts en ’n dokter en ons kon die laaste ruk nie al ons pasiënte ordentlik diens nie,” sê sy.
TygerBurger wag nog op terugvoer op vrae aan Eskom.





