Inwoners moet hul deel doen vir natuurbewaring sê Wyk 1 raadslid Cheryl Visser

Tygerberg Nature Reserve


Inwoners van gebiede langs of naby natuurreservate moet ook hul deel doen om fauna en flora te beskerm.

Dít is die pleidooi van Cheryl Visser, raadslid vir Wyk 1, wat Plattekloof, Monte Vista, Welgelegen, Kleinbosch en Panorama insluit, aan raadslede op ’n subraad-vergadering verlede week in Milnerton. Die kommentaar is gelewer ná ’n voorlegging deur ’n amptenaar van die Stad Kaapstad se omgewingsbestuur, Tshepo Mamabolo.

Tygerberg Nature Reserve

Tygerberg Nature Reserve

Mamabolo, biodiversiteit-gebiedskoördineerder by die departement omgewingsbestuur, het die jaarlikse biodiversiteit-bestuur se verslag vir 1 Julie 2022 tot 30 Junie 2023 op die vergadering verlede Donderdagoggend voorgelê.

Luidens dié verslag het altesame 43 847 besoekers die plaaslike Tygerberg-natuurreservaat in 2023 besoek.

Tydens die voorlegging is verskeie kwessies ook geopper, insluitend die gevare wat die mensdom vir natuurlewe inhou.

Publiek moet opgevoed word

Volgens Mamabolo moet subrade inwoners opvoed ten opsigte van natuurlewe en hulle bewus maak oor diere wat in natuurreservate voorkom, veral wanneer hulle daar verbyry. Sy sê daar word dikwels op dooie diere, insluitend rooikatte, uile en ander spesies, langs paaie afgekom.

Visser het aangedui dat plaaslike buurtwagte in haar gebied onlangs spesialis-toerusting ontvang het, wat hulle in staat sal stel om die natuurreservate in Wyk 1 beter te beveilig.

“Ons moet ons natuurreservate beskerm. Misdadigers kruip hier weg en stropers hang ook hier uit,” het sy aan raadslede genoem.

Visser het gesê inwoners moet egter opgevoed word oor hoe om die fauna en flora te beskerm.

Die pleidooi is ook deur Joy Solomon, raadslid vir Wyk 113, beaam.

Solomon, inwoner van Flamingo Vlei in Table View, sê sy ry dikwels op die R27 (Weskus-pad) en dat dooie diere gereeld langs die pad ook voorkom. “Dis hartseer om die dooie diere langs die pad te sien,” sê sy.

Solomon het versoek dat padtekens naby reservate opgerig word om motoriste daarvan in kennis te stel. “In die Verenigde Koninkryk word ’n duikweg gebou wat die diere kan gebruik om besige roetes te kruis, om sodoende by water uit te kom,” sê Solomon. Sy het versoek dat iets soortgelyks hier oorweeg word.

Kragvoorsiener doen ook sy deel

Visser sê as Wyk 1 se raadslid is sy baie bekommerd oor die Tygerberg-natuurreservaat en die natuurlike erfenisterrein in Eskom se reservaat wat deur die wyk in Subraad 3 tussen Kleinbosch en Welgelegen strek.

Sy het egter aan raadslede gesê dat Eskom hom daartoe verbind het om ’n heining in die reservaat tussen die twee gebiede op te rig.

Op Dinsdag 3 Oktober is ’n vergadering met buurtwagte, maatskaplike dienste, Eskom en Visser gehou. Daar is deur senior amptenare van Eskom hier onderneem dat die Eskom-reservaat tussen Kleinbosch en Welgelegen ’n nuwe heining in die boekjaar sal kry. Die gebied is ’n natuur-erfenisterrein wat bewaar móét word, meen Visser.

“Dit is uiters belangrik dat ons almal vir bewaring omgee en aksie neem, want daar is ’n aanslag op veral die Tygerberg-natuurreservaat. Tshepo Mamabolo en haar span van omgewingsbestuur kan nie die reservaat sonder ons almal se hulp bewaar vir toekomstige geslagte nie.

“Daar begin nou gelukkig ’n groter bewussyn onder inwoners ontwikkel oor die probleme wat die reservaat ervaar met betrekking tot stropers wat fauna en flora steel. Strikke word gestel om klein diertjies te vang. Terugvoer van oplettende inwoners wat omgee is uiters kommerwekkend.

“Ek wil ’n beroep op inwoners doen om asseblief ons natuurreservate te help beskerm en enige onwettige aktiwiteite aan hul plaaslike buurtwagte aan te meld. Inwoners is ook welkom om my te kontak oor ongewenste aktiwiteite,” het sy aan TygerBurger gesê.

Die Stad Kaapstad se noodnommer, 021 480 7700, kan ook geskakel word.

Skole moet bygestaan word

In haar voorlegging het Mamabolo ook die belangrikheid van skole wat die Stad se natuurreservate besoek, en toegang tot dié reservate, beklemtoon.

Mamabolo sê ’n skool van Khayelitsha het een van die reservate onlangs besoek, maar dat elke leerder tot soveel as R200 vir die dag se uitstappie moes opdok, hoewel skole nie vir toegang hoef te betaal nie.

Die hartseer deel vir haar was dat talle van die leerders nie kos of drankies by hulle gehad het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article