Inwoners moedeloos omdat sloot al vir sewe maande nie herstel is nie

’n Sloot in Robynsingel in Welgelegen ontstel inwoners hier omdat niks daaromtrent gedoen word nie.

Credit: SYSTEM

’n Inwoner van Welgelegen het verlede week gesê hulle beplan ’n optog indien ’n straat in dié gebied nie herstel word nie.

’n Sloot kom sedert 2022 in Robynsingel voor en het tot dusver glo erge skade aan die voertuig van Adrian de Vries, wat reg oorkant die gat woon, veroorsaak.

De Vries sê die sloot hou ook ’n gevaar vir ander motoriste en veral motorfietsryers in.

“Hier is ’n gat in die pad gegrawe en nooit weer herstel nie. Ons is nie seker watter soort werk gedoen is nie – of hulle die pad wou opknap of die waterpype wou herstel of vervang nie,” het De Vries verlede week aan TygerBurger gesê.

Hy sê weens die soort klip in die sloot het dit skade aan sy voertuig veroorsaak.

De Vries sê hul misnoeë oor die toestand van die pad is reeds onder die Stad Kaapstad, sowel as die plaaslike wyksraadslid, se aandag gebring.

“Ons het dit in November reeds aangemeld en dis nie net ek wat daaroor kla nie.”

Een inwoner sê hy moet oor die slaggat ry om by sy huis uit te kom.

De Vries sê die sloot is al ses tot sewe maande in die gebied, ná die bouwerk aan die pad.

“Ek moet oor die gat ry om by my eie huis te kom.”

Hy sê hy wil ’n protesoptog reël om gehoor aan hul stemme te gee.

“Ek wil dit ook by die verkeersdepartement aanmeld, aangesien dit ’n gevaar inhou vir motorfietsryers wat moontlik nie daarvan bewus is nie,” sê De Vries.

De Vries het reeds verwysingsnommers vir sy klagtes ontvang. Een e-pos is in November 2022 gestuur. Luidens die terugvoering daarop is ’n gebarste waterpyp vroeër hier herstel, maar die gat in die pad nie weer opgevul nie.

TygerBurger wag nog op terugvoering van die raadslid, wat die navrae verwys het na die Stad se beamptes wat met die kwessie gemoeid is.

Hul kommentaar sal later bygevoeg word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article