Inwoners in Brackenfell sê nee vir 5G seltoring in opendbare park

5G is die toekoms, maar dalk nie vir alledaagse kommunikasie nie. Foto: Unsplash


Die aansoek om ’n 12 m hoë 5G-selfoontoring en losstaande basisstasie in ’n openbare park op te rig is op ’n sitting Woensdag van die Stad Kaapstad se Subraad 2 nie deur die subraad gesteun nie.

Dit volg nadat talle besware van inwoners rondom die park in Brackenfell- Suid teen ’n aansoek aan die Stad Kaapstad om die grond te verhuur vir die oprig van die Vodacom-toring.

Inwoners het verskeie redes hiervoor aangevoer, wat onder meer geraasbesoedeling, estetiese faktore, waardevermindering van hul huise en bekommernisse oor gesondheid as gevolg van elektromagnetiese bestraling insluit.

Binne 50 m-perk

Die huise is geleë binne die 50 m-perk van waar die toring opgerig sou word.

Marian Nieuwoudt, subraad 2-voorsitter, sê hoewel die gesondheidsgevare van elektromagnetiese straling nie wetenskaplik bewys is nie, daar wel ander steurende faktore is soos die gonsgeluide weens die frekwensie van die radiogolwe.

Volgens haar is dit nie ’n geskikte plek vir ’n seltoring nie omdat daar reeds voldoende konnektiwiteit in die gebied is.

“Dis ’n relatief klein park op die hoek van ’n straat aangrensend aan die agterkant van die huise. Dit is ’n stil en rustige park met mooi bome. Dit is ook goed versorg en word deur inwoners gebruik. Dis ook te naby aan die huise en is nie die plek vir ’n seltoring nie,” sê sy.

In hul aansoek aan die Stad het Warren Peterson-beplanningskonsultante beklemtoon dat telekommunikasie-basisstasies nie ’n gesondheidsrisiko vir mense inhou nie.

“Huidige navorsing het ’n punt bereik dat wetenskaplikes tevrede is dat dié basisstasies nie ’n gesondheidsrisiko inhou nie. Navorsing oor selfone self is egter aan die gang, aangesien daar geag word dat die plasing van die selfoon teen jou kop ’n groter bedreiging vir jou gesondheid kan inhou. Maar waar die selfoon gebruik word in gebiede waar daar goeie selfoonontvangs is, verminder dit die blootstelling van bestraling, omdat die foon minder seinkrag benodig,” word in die aansoek gemeld.

Ver onder riglyne

Volgens die konsultante het die Stad Kaapstad se gesondheidsdepartement toetse gedoen by ’n soortgelyke basisstasie, waarin bevind is dat die radiofrekwensie wat deur die toring uitgestuur word ver onder die riglyne van die International Commission of Non-iodizing Radiation Protection (ICNIRP) is. Die ICNIRP is ’n onafhanklike wetenskaporganisasie wat in 1992 gestig is om die blootstelling van die mens aan elektromagnetiese straling te ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article