Inwoners van Ernestpark op die hoek van Rileystraat en Koedoestraat, Parow-Vallei, sê hulle is raadop omdat munisipale dienste glo hier glad nie of nie behoorlik uitgevoer word nie.
Baie van die klagtes is gesluit en die werk is nooit gedoen nie. So hulle kry die werk, en maak dit (die klagte) net toe, sê Jaco Niemand, een van die inwoners.
Van die gereelde klagtes sluit in slaggate, gebarste waterpype en vermiste drein-deksels. Volgens inwoners hier is daar ook tye wanneer hulle lank sonder elektrisiteit moet klaarkom.
“Ons soek antwoorde; wanneer word die goed reggemaak? Ek bly basies drie jaar hier. Die pad is ’n gemors, en dis ’n stryd met die munisipaliteit. Ons baklei met hulle om die pad en die dreinering te herstel, maar die Stad trek net skouers op,” sê hy.
Inwoners hier vrees dat hul eiendomswaarde sal daal.
Volgens hom is daar ook mense in die gebied wat bedel en onwettig naby fabrieke plak. Hy sê rommel word ook onwettig in die gebied gestort. “Dit maak nie saak wie ons bel nie; hulle doen niks daaromtrent nie.”
Die eenhede was glo eers in private besit, maar nie meer nie.
“Hier is slaggate vir Afrika. Ek dink net niks word van die Stad se kant af gedoen om dit reg te maak nie.”
Niemand sê inwoners hier het reeds herhaaldelik kontak met die Stad Kaapstad oor hierdie kwessies gemaak.
Planne in plek om kwessie op te los
Theresa Uys, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, het hierop gereageer.
“Vir enige versoek wat gesluit word sonder dat enige werk gedoen is, kan kliënte nou hierop beswaar aanteken deur gebruik te maak van ons aanlyn-foutaanmelding-toestel. ’n Toegewyde kontaksentrum-span sal dit optel, ondersoek instel en met die betrokke departement opvolg. Hulle sal dan die inwoners oor die vordering met die kwessie ingelig hou en dit deurvoer totdat dit afgehandel is.
“Daar is gevalle waar die Stad versoeke moet sluit; waar dit nie in staat is om die dienste uit te voer nie. Dit is spesifiek in gevalle waar die versoek wat aangemeld is op private eiendom is, of dit buite die Stad se diensgebied val.
“Ons is tans in die proses om ’n oplossing-stelsel in te stel, wat ons diens-departemente in staat sal stel om terugvoering aan die inwoners te verskaf, sou hulle die versoek vir enige van dié redes moet sluit,” sê Uys.
Munisipale klagtes aangemeld
Niemand het ’n reeks verwysingsnommers van al hul klagtes verskaf, wat ook aan die Stad deurgestuur is vir verdere kommentaar.
Een van die klagtes hou verband met ’n tekort aan watertoevoer.
Die Stad se water-en-sanitasie-direktoraat stel tans ondersoek in en sal mettertyd hierop reageer.
Nog ’n klagte hou verband met slaggate. Die Stad se departement van paaie en infrastruktuur-bestuur stel tans hier ook ondersoek in.
’n Derde klagte hou verband met vermiste drein-deksels. Dié saak is reeds ondersoek en die betrokke deksel is vervang. Nog ’n klagte wat met ’n geblokte drein verband hou, is op 24 April vanjaar reeds afgehandel.
’n Gebarste waterpyp wat ook aangemeld is, is op dieselfde dag herstel, sê die Stad.
Die plaaslike wyksraadslid, Franchesca Walker, is ook oor die kwessies ingelig.
Inwoners het per e-pos by haar gekla oor die toestand van die gebied se paaie.
Inwoners het versoek dat die pad herstel moet word. Hulle het ook gekla oor gebarste waterpype en hul stryd om sonder elektrisiteit klaar te kom.
Munisipale beamptes het aan Walker genoem dat die pad waarna verwys word, ’n private pad is en dat dit die eiendom van die Ernest Park-belastingbetalersvereniging is.
Niemand het egter aan TygerBurger genoem dat dit nie die geval is nie.
Die distriksbestuurder het wel aan Walker bevestig dat die pad nie ’n openbare pad is nie, maar ’n private pad, en dit moet deur die beheerliggaam in stand gehou word.
Volgens Niemand bestaan ’n beheerliggaam egter nie.





