’n Ouma (77) van Durbanville met baie stapkilometers agter die blad, pak van 14 tot 22 April die “Red-’n-plaas-Camino”-staproete van Williston tot Verneukpan oor 166,4 km aan.
Corrie Laubscher vier net ná dié uitmergelende staproete op 25 April haar 78ste verjaarsdag.
Die staproete word deur RSG aangebied ten bate van Suid-Afrika se boere in die Noord- Kaap, wat steeds gebuk gaan onder die erge droogte.
Laubscher, stigter in 1966 van die Hak-tot-Toon-voetslaanklub in die Suid-Kaap, het al berg Kilimandjaro in 2004 uitgeklim, ’n maand lange Europese rugsaktoer in 2005 meegemaak, asook die 400 km van die Camino de Santiago in Spanje in Mei 2007 in 20 dae voltooi.
“In November 2007 was ek baie bevoorreg om deur die noord- en suid-eiland van Nieu-Seeland met ’n groep stappers te toer. Ek is baie dankbaar dat ek baie staproetes in ons land en ook oor die wêreld kon verken,” sê sy.
Hoewel sy lanklaas so ver gestap het, oefen sy nou baie en neem gereeld aan korter staproetes deel om voor te berei.
“Dis omtrent ’n geskarrel om ná al die jare hierdie uitdaging aan te pak, maar my kop sê ek kan dit doen,” sê Laubscher. Sy het drie kinders en vier kleinkinders.
Sy versoek mense om haar te ondersteun en per kilometer te borg.
“Sodoende kan ons die vlam van hoop weer aansteek vir die mense van die Noord-Kaap.”
- Besoek Caritas Community Focus op Facebook of http://caritas.org.za/red-n-plaas/ vir meer inligting.
- Kontak Corrie Laubscher by 083 384 9897 om haar te borg.





