Dwelmhandel het die afgelope jaar met rasse skrede in Brackenfell en omliggende gebiede toegeneem.
Dít volgens inligting en statistieke van die Brackenfell Business Improvement District (BBID) en ’n plaaslike buurtwag.
Volgens Cassie van Zyl, bestuurder van die BBID, word die inligting van verdagte voertuie en insittendes, wat na bewering dwelms in Brackenfell verkoop, saamgevat in ’n omvattende databank.
Die verdagte voertuie word op sekerheidskameras afgeneem wanneer hulle Brackenfell en omliggende gebiede inkom.
“Ons verkry inligting van waar dwelmtransaksies na bewering plaasvind. Dit kan by huise, besigheidspersele en parkeergebiede wees. Aktiwiteite by dié plekke word dan gemonitor en profiele van die voertuie opgestel,” sê hy.
Wanneer so ’n voertuig dan die gebied binnekom en deur ’n kamera opgemerk word, word ’n waarskuwing op ’n elektroniese stelsel uitgestuur na alle rolspelers.
Volgens ’n lid van ’n plaaslike buurtwag, wat om veiligheidsredes nie sy naam bekendgemaak wil hê nie, word die voertuie se modus operandus fyn dop gehou.
“Die aantal elektroniese waarskuwings het tussen Januarie verlede jaar en Januarie 2022 eksponensieel van 758 tot 7 295 vermeerder,” sê hy.
“In baie gevalle is dit een voertuig wat tot en met vyf keer per dag die gebied binnekom. Wanneer ’n verdagte voertuig gewaar word, agtervolg lede van die buurtwag die voertuig en word die metropolisie, die polisie en ander rolspelers vir bystand ontbied.”
Volgens hom is daar in die afgelope 12 maande 67 mense in hegtenis geneem uit 130 voertuie wat afgetrek en deursoek is.
“Ongelukkig word baie van die verdagtes ná ’n paar weke weer in die gebiede gesien nadat hulle borgtog gekry het, dié keer in ander voertuie, meestal luukse voertuie,” sê hy.
“Dwelms wat in die voertuie gevind word wissel in straatwaarde tussen R10 000 en soveel as R200 000 en sluit meestal kokaïen, tik, Mandrax en ecstacy in.
“In November verlede jaar is ’n rekordboek in een van die dwelmhandelaars se voertuig gevind waarin dwelmtransaksies van meer as ’n miljoen rand in een maand opgeteken is. sê die buurtwaglid.





