Martin Moore.


’n Ikoon in die wynbedryf, die wynmaker Martin Moore, het Maandag in die hospitaal ná ’n kort siekbed aan ’n hartaanval beswyk.

Moore, keldermeester van Durbanville Hills, is volgens inligting Saterdag in die hospitaal opgeneem weens komplikasies.

Hy was bekend vir sy gul geaardheid en was baie geliefd in wyn- en koskringe.

Volgens Durbanville Hills se webblad is Moore in 1998 as wynmaker by Durbanville Hills aangestel toe die kelder nog in aanbou was.

Hy was reeds as kind tot wynmaak aangetrokke waar hy in Worcester grootgeword het en gereeld naweke op ’n wynplaas spandeer het.

Hy het later wingerd- en wynkunde studeer en veral ook lief geraak vir kosmaak.

Hy het sy kennis van witwyne by die KWV onder leiding van Willie Hacker uitgebrei en was vir ’n kort ruk werksaam in die Robertson-wynvallei. Toe hy terugkeer na die Paarlse wynbedryf, het hy Hacker later opgevolg toe dié afgetree het.

Op slegs 27-jarige ouderdom het Moore die senior keldermeester in beheer van die KWV se wit, rooi, gefortifiseerde wyn en sjerrie-kelders geraak.

Vroeg in 1991 het hy hom by Groot Constantia aangesluit, waar hy agt jaar werksaam was.

Teen einde 1997 het hy hom by Distell se Durbanville Hills aangesluit.

Die Durbanville-wynvallei was vroeër vandag nog in skok.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article