Die advieskomitee van die Tygerberg-natuurreservaat se beskermde gebied is (van links) Marisa Langton, Abraham Saaiman, Louise Ferreira, Miquette Temlett, Geordin Hill-Lewis (burgemeester), Sphiwe Maphosa, Tshepo Mamabolo en Cheryl Visser.

Verskaf

Die ikoniese geel raam wat vir die Tygerberg-natuurreservaat beplan word, sal moontlik einde Mei voltooi wees.

Dít is die inligting wat verlede Vrydag (22 Maart) op ’n Subraad 3-vergadering met raadslede gedeel is.

Cheryl Visser, wyksraadslid, het vroeër aangedui dat die groot geel raam binnekort by die natuurreservaat geïnstalleer sal word, en dat dit binne die raamwerk van die huidige wyksbegroting van Wyk 1 sal geskied, (“Geel fotoraam vir reservaat beplan”, 28/2).

Tshepo Mamabolo, gebiedskoördineerder van biodiversiteit by die Stad Kaapstad se departement vir omgewingsbestuur, het op die vergadering aangedui dat alles gereed is om die raam op te rig.

“Ek wag nog op die kontrakteur om die ruimte te finaliseer, maar ons is op datum en behoort teen die einde van Mei daarmee klaar te wees,” sê sy.

Sy voeg by: “Ons sal dan die subraad na die raam uitnooi om ’n selfie te kom neem, aangesien dit een van die plekke is waar mense hul foto’s neem met die mooi agtergronde.”

Die geel rame kom by verskeie plekke reg oor Kaapstad voor, insluitend Grootbaai in Bloubergstrand.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article