Die 17-jarige Jason Julius, ’n leerder aan die Hoërskool Forest Heights, is geskiet toe hy by ’n vriend in Mediterraneanstraat gekuier het.


Boodskappe van medelye stroom sedert die naweek in ná die skietdood Vrydagaand van ’n jong rugbyspeler van Eersterivier.

Die 17-jarige Jason Julius, ’n leerder aan die Hoërskool Forest Heights, is geskiet toe hy by ’n vriend in Mediterraneanstraat gekuier het.

Julius het vir die Whisteling Wheels-rugbyklub gespeel en die bestuur sê hulle is geskok oor sy skielike heengaan.

Norman Titus, woordvoerder vir Whisteling Wheels, sê Jason was een van die sterspelers in hul junior strukture.

“Hy was uitsonderlik vinnig en was ’n ‘finisher’ vir ons. As hy die bal gekry het, het ons geweet ons gaan druk. By geleentheid het ek hom gevra hoekom hy nie eerder atletiek doen nie, maar hy het gesê hy hou van die fisieke kant van rugby. Hy het die spelers om hom geïnspireer om harder te werk,” sê Titus.

Volgens Titus was Julius ’n baie teruggetrokke jongman.

“Net wanneer daar met hom gepraat is, het hy gepraat, maar hy het die wonderlikste glimlag gehad. Almal was gek oor die gedissiplineerde, vriendelike jongman. Die klub en sy spanmaats gaan hom vreeslik mis,” sê Titus.

Julius het op 12-jarige ouderdom by Whisteling Wheels aangesluit en het vyf ononderbroke seisoene daar beleef. Hy het die o.18-span veral op vleuel verteenwoordig. Die klub gaan eersdaags Julius se trui aan sy ouers oorhandig.

Dit is die tweede speler in minder as ’n jaar wat Whisteling Wheels aan die dood afstaan.

“Verlede jaar is nog een van ons spelers doodgeskiet. Sport is juis daar om ons kinders uit die kwaad te hou, dan gebeur dit. Wapens moet uit ons gemeenskappe verwyder word,” sê Titus.

Titus sê hulle verkies om die positiewe bydrae te onthou wat Julius in die lewe gemaak het.

Teen druktyd het die polisie nog nie op TygerBurger se navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article