Dr. Hymie Ehrlich (89), wat 54 jaar in Goodwood as mediese dokter gepraktiseer het, het verlede Sondag die oudste persoon geword om saam met Fly Cape Town van Seinheuwel af tot in Seepunt te valskermsweef. Foto:: Stephen Kruger/ Fly Cape Town


Die wind moes eers bietjie bedaar en hulle kon om 11:00 opstyg. “Dit was pragtig,” sê hy.

“Daar is baie geboue, maar dit was die beweging van karre en mense onder in die straat en langs die see wat vir hom interessant was om te sien,” vertel hy.

Sy skoondogter was bietjie huiwerig en senuagtig, sê hy. Vir hom was die moeilikste deel om saam te hardloop vir die opstyg. Die vlug self was rustig, sê hy.

Stephan Kruger, die instrukteur, wou weet of hy ’n paar tricks moet doen.

“Ek het nee gesê, ek sal liewer net die gewone rit vat.”

Die vlug het ongeveer tussen 10 en 15 minute geduur voor hulle in Seepunt gaan land het, waar familielede hulle ingewag het.

Ehrlich lag en sê: “Hulle het gesê ek kan volgende jaar weer gaan. Weet nie of ek gaan byhou nie; hulle sal my moet stoot!”

Hy het 30 jaar gelede ’n hartomleiding gehad, maar sê, ‘‘dank die Vader’’ dit gaan goed met sy gesondheid.

Hy stap elke dag. Soggens 05:00 is hy op en ’n halfuur later op die pad. Hy stap vir ’n uur, ‘‘so 4 km”, seelangs. “Dis stil, al jou gedagtes kan deur jou kop gaan – wat jy wil doen, nie wil doen nie en moes gedoen het.”

Daarna stort hy en gaan werk toe.

Hy was vyf toe hy geweet het hy wil eendag ’n dokter word. “Ons het ’n boodskap gekry dat my oupa gesterf het, en ek het gesê ek wens ek was ’n dokter dat ek hom kon help.”

Ná skool (in Muizenberg) was hy in die eerste mediese klas ná die Tweede Wêreldoorlog by die Universiteit van Kaapstad.

’n Hele paar van sy klasmaats was soldate wat teruggekeer het en ‘‘al die dinge deurgemaak het”. 

In 1954 het hy aanvanklik saam met dr. Nathan Mallach (die bekende apteker se pa) ’n praktyk in Goodwood begin. Nog vennote het later bygekom. Hy het baie bevallings in Goodwood hanteer, want dit was in ’n tyd voor spesialiste, sê hy. “Ek het seker meer as 200 kinders in die wêreld gebring.” Een van hulle is nou ’n spesialis in Durbanville.

Met TygerBurger se besoek aan dr. Theron se praktyk het die ontvangsdames laat blyk Ehrlich is baie gewild onder sy pasiënte. Natuurlik kom hy met hope ervaring. “As hy sê, dít is wat fout is, moet jy maar weet dit is so,” sê Annie Taylor. Ehrlich self sê: “Alles in die lewe is ’n ervaring.”

Sommige van sy ou Goodwood-pasiënte kom sien hom nog en hy sien soms van hulle wanneer hy een keer ’n week by ’n praktyk in Parow uithelp.

As hy terugkyk oor sy lang loopbaan en hoe die mediese veld verander het, sê hy die ontwikkeling in tegnologie is die grootste storie. “Mense gaan nou op Google in. As hulle hier instap, vra ek nooit vir hulle wat hulle makeer nie. Al wat ek sê is ‘hoe kan ek jou help?’”

Hy sê soms het pasiënte klaar die antwoorde – hulle is net bang en wil weet wat die dokter dink. Dan moet hy verduidelik dat nie alles wat hulle op die internet gelees het, altyd op hulle van toepassing is nie.

Hy is baie gelukkig by dr. Theron se praktyk en sê die mense is wonderlik. Sy oë het egter al baie verswak en hy is onseker hoe lank hy nog sal kan bestuur en werk.

Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article