’n Persoon wat byna niks kan sien nie en kolskoot na kolskoot op die veerpyltjiebord (darts) gooi?
Ontmoet vir Ruben Janse van Rensburg – bedags ’n amptenaar by die Bellville-polisiekantoor en saans ’n veerpyltjiekampioen.
Hy is sover bekend die enigste gesiggestremde veerpyltjiespeler ter wêreld wat op ligavlak speel.
En hy is nie net ’n sommerso speler nie. Hy gaan in Oktober vanjaar Duitsland toe, waar hy Suid-Afrika as deel van die Suid-Afrikaanse Gestremde Veerpyltjievereniging by die wêreldkampioenskap gaan verteenwoordig.
Ruben, wat gesiggestremd gebore is, kan net 8% met sy linkeroog sien en absoluut niks met sy regteroog nie.
Maar hoe doen hy dit?
“Die bord is onder die lig,” verduidelik hy. “Daar skyn ’n lig op elke dart en dis swart en wit. Ek ken elke nommer; ek weet waar hy sit.”
Aanlyn is daar berigte van ’n ander gesiggestremde span, waar die spelers ’n tou gebruik wat hul na die kolskoot lei.
Ruben sê egter hy het nog nooit ’n tou gebruik nie.
Hy verduidelik ook dat daardie spelers sosiale veerpyltjies of garage darts speel en dat dit verskil van baie meer kompeterende ligavlak.
Maar hy sal gou spot dat hy nie darts kan speel wanneer hy nugter is nie. En dat beurtkrag nou alles kom opfoeter. “Ek kan al klaar so min sien, nou maak hulle dit nog moeiliker.”
Opgang
Hy het net bietjie sosiaal gespeel toe hy einde 2005 deur die polisie se Wes-Kaapse veerpyltjie-koördineerder genader is om vir hulle te speel.
“Pretoria (se polisiespan) het hulle baie pak gegee omdat hulle nie ’n disabled persoon in die span gehad het nie.”
Hy het toe in 2006 amptelik by die span aangesluit en vinnig opgang gemaak. Hy het selfs later die jaar die polisiespan se provinsiale span gehaal.
“Dis nou na 17 jaar dat ek dit eers reggekry het om ’n Springbok te word.”
Wanneer jy vir die polisie se provinsiale span gekies word, moet jy ook by ’n klub aansluit.
Ruben, wat in Parowvallei bly, het aanvanklik vir die plaaslike klub onder Aletta Bothma gespeel.
Dis sy wat vir die eerste keer vir hom gesê het sy het bevestig dat hy die enigste gesiggestremde speler ter wêreld is. Hy speel al vir jare saam met nie-gestremdes in die polisie se span. Die eerste nasionale veerpyltjiespan vir gestremdes het eers in 2019 ’n span oorsee gestuur nadat hulle kort tevore gestig is.
Daarna het Stephen Maphike, hoof van die organisasie, ook bevestig Ruben is die enigste gesiggestremde.
Intussen ryg Ruben medalje na medalje in. Hy het verlede jaar in die Westelike Provinsie se derde liga gespeel (teen nie-gestremdes) en gaan vanjaar in die tweede liga speel.
Als moontlik
Sy vrou, Joey, en dogter, Sharné (25), speel egter nie een die sport nie.
Al bly hy opgewek, het Ruben se sig al vir baie hartseer gesorg. Hy het in Goodwood grootgeword en moes op nege na die Skool vir Blindes in Worcester gaan (deesdae die Pionierskool), waar hy in die koshuis gebly het.
“Ek is vir nege jaar van my ma-hulle weggevat.”
Hy wil hê ander gestremdes moet sien dat dit moontlik is om selfs die byna onmoontlike te doen.
’n Mens kan amper sê die sport het sy lewe oorgeneem. Hy wens hy’t tyd gehad vir ander belangstellings, sê hy, maar sy sport neem nou al so baie tyd in beslag, veral vandat hy die polisie se provinsiale veerpyltjie-koördineerder is.
Hy is nog van ’n ouer geslag, wat makliker kanse sal waag, sê hy.
“Ons ou blindes sal enige ding doen wat (ander) kan doen of ons sal dit probeer of dalk selfs beter doen.”
Soos om ’n kolskoot te gooi terwyl jy byna niks kan sien nie.





