Die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste het die afgelope naweek op ´n huisbrand in Plattekloof Glen gereageer.

District Watch

Nooddienste van die Stad Kaapstad het die afgelope naweek op ´n huisbrand in Blythewood-rylaan, Plattekloof Glen gereageer. Die Stad se brand- en reddingsdienste sê die brand is Sondag 2 Februarie by hulle aangemeld. Geen ernstige beserings is in die voorval aangemeld nie.

Jermaine Carelse, woordvoerder, het aan TygerBurger gesê brandbestryders van die Goodwood-en Milnerton-brandweerstasies is na die toneel ontplooi.

“Dit wil voorkom asof die brand in ´n skuur onstaan en na die huis versprei het,” sê hy.

Brandbestryders kon daarin slaag om die vlamme tot die kombuis en dak van die huis te beperk. “Mediese personeel het een volwasse vir rookinaseming op die toneel behandel.”

Die brand is om 18:40 geblus. Geen ander beserings is aangemeld nie, sê Carelse.

Die privaat-sekerheidsmaatskappy, District Watch, was ook op die toneel. Volgens die maatskappy is hulle om 17:43 van die voorval in kennis gestel. Lede van die Monte Vista/Plattekloof Glen-buurtwag was ook reeds op die toneel. Beide die buurtwag en sekerheidsmaatskappy se beamptes het probeer help om die brand te blus. Die brandweerdiens was kort ná hul aankoms op die toneel, sê die maatskappy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article