Jy moet met ’n oop hand staan, dan sal jy ontvang.
Met dié beginsel voor oë het die hulpverleningsorganisasie HOOP ’n indrukwekkende verskil gemaak in die lewe van minderbevoorregtes in die noordelike voorstede van Kaapstad.
As deel van hul sesde verjaarsdagvieringe het HOOP ’n tamaai geldelike donasie aan die Paarlskool vir Gestremdes in Brackenfell gemaak. Daar was Vrydag groot opgewondenheid by hul perseel in Patryssingel in Okavango Park waar jolig partytjie gehou is nadat ’n tjek vir R50 000 aan Anneline Norman, hoof van Paarlskool, oorhandig is.
Volgens Norman sal die donasie help om talle uitdagings by die skool te bowe te kom. Die geld wat deur die nie-winsgewende Paarlskool Ontwikkelingstigting bestuur word, sal help om onder meer infrastruktuur by die skool op te knap.
“Die donasie was ’n baie groot verrassing,” sê Norman.
Die skool, wat vanjaar 47 jaar oud is, onderrig 330 kinders wat fisiek, serebraal of leergestremd is.
“Die 130 personeellede kom daagliks te staan teen die vele fisiese, maatskaplike en akademiese uitdagings waardeur die kinders in die gesig gestaar word. Ons kinders is broos en verg gespesialiseerde aandag.
“Daar is ook groot finansiële nood onder baie van ons leerders, wie se gesinne nie skoolgeld, vervoergeld of koshuisgeld kan betaal nie,” sê Norman.
Altesame 200 leerders, baie in rolstoele, word daagliks op 15 busroetes in Kaapstad en van so ver as Wellington en die Strand skool toe vervoer en 40 kinders gaan in die koshuis tuis.
“Nog ’n groot uitdaging is om die persepsies oor wat ’n gestremde leerder kan en nie kan doen nie, te verander.
“Gestremdes kan ’n groot bydrae maak in die samelewing en ons poog om die speelvak gelyk te maak. Ons kinders is baie broos, maar het ook die reg om groot te droom en ons moedig hulle elke dag aan,” sê Norman.
Die skool se koor was verlede jaar naaswenners by die gewilde ABC Motsepe South African Schools Choir Eistedfod, wat in Johannesburg plaasgevind het, en spog ook vanjaar met ’n atletiekspan wat in die Wes-Kaap-kampioenskap in die Paarl gaan meeding.
In reaksie op armoede
As ’n gemeenskapsprojek van Bok Radio, het HOOP sy deure op 1 Maart 2018 geopen in reaksie op die armoede en nood in plaaslike gemeenskappe.
In nadenke oor die afgelope ses jaar sê Wilinda Ford, projekbestuurder van HOOP, dat die sukses van die organisasie alleenlik moontlik was te danke aan die ondersteuning van die publiek, vrywilligers en borge.
“Ons is dankbaar en trots. As ek dink hoe ons begin het met net twee sakke klere wat ons uitsorteer het tot vandag waar ons kan sê ons het die voorreg om honderde mense se lewens aan te raak,” sê Ford.
“Ons vrywilligers werk met ’n passie voor en agter die skerms, maar word voldoende beloon om die blydskap op mense se gesig te sien.”
Die organisasie verskaf bystand aan hulpbehoewendes nadat ’n sorgvuldige ondersoek gedoen is.
“Of dit nou ’n kind is wat ’n paar rugby-toks benodig, of brandweerpersoneel wat energiestafies nodig het, ons help waar ons kan. Ons voorsien individue en gesinne van kospakkies, klere en geskenkbewyse. Ons reik ook uit na dierewelsynorganisasies.”
Senior burgers is veral hoog op HOOP se prioriteitslys.
“Ons fokus baie op bejaardes wat probeer oorleef op ’n Sassa-toelaag van ’n rapsie oor R2 000. Ons is tans besig met beplanning om ’n ouetehuis te besoek waar ons ’n ete gaan voorsit en tyd saam met die bejaardes gaan spandeer,” sê Ford.
Dan bied HOOP ook ’n gratis diens aan om werksoekers by te staan, deur poste namens maatskappye op hul platform te adverteer. In die afgelope jaar het die organisasie 147 mense gehelp om werk te kry.
Winkel bron van ikomste
Die organisasie se netjiese tweedehandse winkel is sy grootse bron van inkomste. Daar kan jy enigiets van ’n goeie paar skoene tot huisware koop.
“Mense pak hul kaste uit en kom skenk klere en ander goedere wat ons hier verkoop. Al dié geld word teruggeploeg in die werk wat ons doen,” sê Ford.
Die organisasie het al vele uitspattige versoeke gekry.
“Daar was iemand wat gevra het vir ’n groter motor om sy groeiende gesin rond te ry, ’n jong paartjie wat gevra het vir ’n wittebrood en ook ’n ouer paartjie wat gevra het vir ’n nuwe verloofring om hul 30-jaar- herdenking te vier. Dit is nie werklik nood nie, so ons vat dit maar met ’n knippie sout,” sê sy.
Op die pad vorentoe sê Ford is ook groot drome aan die broei vir die organisasie. “Dalk kan ons oor nog ses jaar ’n gebou van ons eie hê. Daar is altyd hoop. Waar God is, is daar hoop,” sê sy.
Rig navrae per e-pos na hoop@bokradio.co.za. Geen skenkings op weeksdae by HOOP af.





