Vyf vermeende dwelmhandelaars is verlede week in twee voorvalle in Brackenfell vasgetrek deur lede van die metropolisie se honde-eenheid.
Daar is ook beslag gelê op Mandrax-tablette en tik met ’n straatwaarde van sowat R14 000.
In die eerste voorval Donderdag het lede van die metropolisie ’n verdagte voertuig om 16:15 in Sendingstraat in St Michaels van die pad getrek.
“Nadat die beamptes toestemming verkry het om die bestuurder van die voertuig te deursoek, is 31 Mandrax-tablette en tik in sy besit gevind,” sê ’n woordvoerder van die metropolisie.
Nog vier verdagtes, drie mans en ’n vrou, is die volgende dag om 13:30 in hegtenis geneem nadat lede van ’n plaaslike sekerheidsmaatskappy die verdagte voertuig opgemerk het.
Die voertuig is deur die honde-eenheid op die hoek van Frans Conradie en Paradysstraat afgetrek en deursoek nadat toestemming verkry is.
“Die bestuurder van die voertuig was in besit van ’n pakkie tik en ’n groot bedrag kontant. Met verdere deursoeking van die voertuig is 50 tablette en ses groot pakke tik ontdek,” sê die woordvoerder.
Die verdagtes is almal by die Brackenfell-polisiekantoor aangehou tot en met hul hofverskyning vandeesweek.





