Katte word in hordes doodgebyt deur ’n trop aggressiewe rondloperhonde in woonbuurte langs die Goliath Estate-informele nedersetting in Kraaifontein.
Die honde, wat al sedert begin vanjaar los rondloop, behoort na bewering aan ’n hawelose man wat in die veld langs die nedersetting slaap.
Volgens ’n verslag wat deur ’n gemeenskapsgroep opgestel is, is 42 katte sedert begin vanjaar deur die honde doodgebyt.
Die groep genaamd “Stop Cat Killers” is vroeër vanjaar gestig ná die eerste aanvalle.
In die mees onlangse geval is ’n inwoner, Ruan Stears, se kat verlede Maandag wreed verskeur deur twee van die honde, waarvan een ná bewering ’n pitbull-kruising is.
Die aanval het in Letabastraat in Bonnie Brook plaasgevind.
“Die twee ligbruin honde het deur die heiningtralies gedruk om my kat in ons erf te gryp. My ma het hulpeloos by die venster gestaan en kyk hoe die barbaarse honde ons kat verskeur,” het ’n hartseer Ruan aan TygerBurger vertel.
Tropmentaliteit
Volgens Ruan het ander inwoners gesien hoe die honde deur die draad na Goliath Estate glip.
“’n Sekuriteitswag het ’n paar maande gelede gesien hoe ’n man naby die nedersetting die honde aanhits,” sê hy.
Nóg ’n inwoner, Cindy Fourie, wat die honde verskeie kere in haar motor agtervolg het, sê sy het sowat vyf honde in die groep getel. Ook haar kat is vroeër vanjaar deur die honde verskeur.
Volgens haar loop die honde saam met die hawelose man in die strate rond op asblikdag.
“Die honde loop elke week op asblikdag saam met hul eienaar deur die strate om in die vullisdromme te krap. Só ken hulle die gebied en volg hul eie reuk as hulle snags terugkom. Hulle jag die katte met ’n instinktiewe trop mentaliteit wat meestal snags of in die vroeë oggend plaasvind. En as hulle eers die kat gegryp het, laat los hulle nie, selfs al probeer jy hulle wegjaag. My man het onlangs probeer, en ook hy moes terugstaan toe die honde hom wou takel,” vertel sy.
“Inwoners in die nedersetting het my vertel dat die honde aan ’n hawelose man behoort wat in die veld langs die nedersetting bly en ook al aggressiewe gedrag teenoor inwoners getoon het. Hulle is ook bang vir die honde wat soms deur hul eienaar aangehits word.”
Kwessie van tyd
Stears sê dis net ’n kwessie van tyd voor die honde mense of kinders in die nabye skole begin aanval. Hy het die saak verlede week by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) en die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement aangemeld.
Die honde is vroeër vanjaar ook deur twee ander inwoners aangemeld, maar daar is nog nie daarin geslaag om hulle te vang nie.
By navraag het Rhynhard Bresler, wyksraadslid, aan TygerBurger gesê dat hy die saak voorts met wetstoepassers sal opneem om verklarings te neem vir verdere ondersoek. Hy het inwoners versoek om die verwysingsnommers van dié klagtes aan hom te stuur.
Belinda Abrahams, woordvoerder van die DBV, sê die DBV kan net optree as daar bewyse is wat daarop dui dat die honde opsetlik deur hul eienaar losgelaat word om ander diere aan te val.
“As ons genoegsame bewyse daarvan het, kan ons aansoek doen om ’n lasbrief te verkry om die honde te verwyder en ’n aanklag van dieremishandeling teen die eienaar in te dien ingevolge die Dierebeskermingswet,” sê sy.
“Om hulle toe te laat om rond te loop is egter ’n oortreding van die Stad Kaapstad se verordening oor die aanhou van diere wat vereis dat eienaars te alle tye in beheer van hul diere moet wees. Slegs wetstoepassers kan stadsverordeninge afdwing. Dit is uiters onverantwoordelik om jou honde toe te laat om vrylik rond te loop, maar dit word nie in die Dierebeskermingswet as wreedheid gedefinieer nie,” verduidelik sy.





