Melandri Kapp (voor middel) sit met Mila op haar skoot saam met van die gaste by die partytyjie. FOTO: Janine Wiggens


Wie het gesê hondekinders mag nie partytjie hou nie?

Sowat 20 Yorkies, uitgevat in hul beste vere, is saam met hul mense uitgenooi om verlede week Mila, Brackenfell se eie celebrity Yorkie se eerste verjaarsdag, met swier te vier.

Melandri Kapp, eienaar van ’n bekende hondesalon in Brackenfell, het verlede jaar haar geliefde, en ook baie bekende Yorkie, Minki, verloor ná haar stryd teen nierprobleme.

“Minki was die queen van Brackenfell, almal het haar geken. Ná die groot hartseer het ek ’n nuwe bondeltjie liefde gekry,” sê sy van Mila, wat nou haar hart se punt is.

Nes haar voorganger Minki, spog Mila ook met haar eie sosiale platvorms waar sy baie aanhang geniet.

Partytjie met tema

Die tema vir die dag was “Unicorn” met tafeldekor om te inspireer.

Elke hondekind het ook ’n geskenkpakkie propvol bederfies en speelgoed ontvang.

Lola, die oudste Yorkie by die partytjie, was die VIP en het die meeste aandag getrek met haar skattige sonbril. Lola is vanjaar 16 jaar oud.

“Mila het dit vreeslik geniet en al die Yorkies kon nie genoeg van mekaar kry nie. Dit is beslis ’n geleentheid wat ’n jaarlikse instelling gaan word,” sê Melandri.

“Ons sien daarna uit om volgende jaar weer almal te nooi en selfs groter te gaan soos Mila meer geliefd raak by die salon.”

Mila het ook twee Yorkie-susters, Ava wat amper ’n jaar oud is, en Luna, wat sewe is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article