Willoughby is onlangs deur ’n Pitbull in Loevenstein gebyt en moes ná die aanval uitgesit word.


Omstanders sê hulle sukkel nog om te slaap nadat hulle aanskou het hoe een hond ’n ander vroegoggend in Loevenstein verskeur het.

“Ek wil steeds hê die hond moet uitgesit word. Ek is doodbang,” vertel een, wat anoniem wil bly.

Adri Pienaar sê sy en haar man, Gerhard (70), is verpletter oor die dood van hul hond, Willoughby.

Willoughby is juis tien jaar tevore by ’n diereskuiling in Ras Al Khaimah, in die Emirate, aangeneem en is saam teruggebring Suid-Afrika toe.

Adri en Gerhard glo die pitbull moet ook verwyder of uitgesit word voordat nog sulke voorvalle plaasvind.

“Dit kon ’n kind gewees het,” meen Adri.

Gerhard, wat steeds sukkel om oor die voorval te praat, sê hy het oudergewoonte op 16 Januarie vroegoggend met Willoughby gaan stap.

Dit was omstreeks 07:00 toe hy en sy hond in die betrokke straat begin stap.

“Ek weet daar is ’n hond (in daardie straat). Ek is bewus hy is by die huis, maar hy is (gewoonlik) agter ’n hek.

“Toe hy verbystap, het die hond egter uitgekom en verby my gehardloop en Willoughby gegryp. Hy het hom letterlik uitmekaar geskeur.”

Hy het gedoen wat hy kon, sê hy. Willoughby was in ’n harnas en hy het met die harnas probeer om die pitbull te verwurg, maar niks het gehelp nie.

Omstanders het probeer help. Een het die situasie van haar woonstelgebou gesien en afgehardloop onder toe. Sy is self telkemale in die proses gebyt.

’n Ander vrou wat naby woon en anoniem wil bly, het probeer om die eienaars van die hond in die hande te kry.

“Ek het hul deure probeer afskop.”

Sy kon hulle aanvanklik nie wakker kry nie. Sy het in die proses omgedraai en gesien hoe die ander vrou haarself tussen die pitbull en Willoughby probeer gooi. “Sy is regtig ’n hero.”

Toe die pitbull uiteindelik vir Willoughby los, was daar net bloed. “Ek het my japon gebruik om hom toe te gooi. Hy het te veel gebloei om op te tel.”

Gerhard en die vrou wat tussenbeide getree het, is met Willoughby na ’n nabye dierehospitaal.

In die dierehospitaal se verslag, wat deur TygerBurger gesien is, sê die veearts die hond het reusetrauma deurgemaak en is “aggressief deur ’n sterk medium tot groot hond verskeur”.

Sy het die hond uitgesit.

Sy het ook opgelet dat beide Gerhard en die vrou opmerklike bytmerke aan hul hande en hul arms gehad het.

“Ons sal ewig dankbaar wees vir die mense wat so mooi gehelp het,” sê Adri.

Hulle het daarna ’n klagte by wetstoepassing aangemeld.

“Ons harte is stukkend.”

Die eienaar van die hond, wat net as Robin bekend staan, sê hulle het in Mei verlede jaar na die buurt getrek.

“Ons voel natuurlik aaklig oor wat gebeur het.”

Sy sê wetstoepassing het vir hulle spesifieke voorwaardes gegee waaraan hulle nou voldoen.

Hulle het onder meer ’n afrigter gekry wat nou help met hul hond se gedrag. Hulle het ook die heining hoër gemaak en die hond kan nou net agter in hul werf wees.

“Dis ’n normale gesinshond. ’n Familielid wat vyf is, het die naweek met haar kom speel.”

Die vrou sê op die dag van die voorval het iemand met hul hek gepeuter en dit is hoe die pitbull uitgekom het.

Een van die omstanders sê dit is baie moontlik, aangesien daar ook ander misdaadvoorvalle daardie nag was.

Robin sê egter hulle gaan nie die hond uitsit nie. “Ons doen alles was ons kan.” Sy sê hulle voel onveilig en het hul hond nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article