Straatrowers in Silversands en omgewing gebruik nou ’n nuwe wapen om inwoners te beroof – ’n hond.
Verskeie inwoners in Silversands het die laaste ruk vertel hoe twee of drie aanvallers hulle met ’n blaffende hond dreig, voor hulle die besittings van die slagoffers afneem.
Sarah Ludick, ’n plaaslike gemeenskapsleier, sê voorvalle van straatroof wat met geweld gepaard gaan is aan die toeneem.
“Verlede week is twee volwasse mans langs die Hoërskool Silversands met messe aangeval. Die een man is so erg gesteek dat hy amper sy oog verloor het. Ons moes met hom na ’n nabygeleë kliniek jaag, vanwaar hy na die Eersterivier-hospitaal vervoer is,” sê Ludick.
Tuisversorgers geteiken
Volgens Ludick volg hierdie aanval op verskeie aanvalle op tuisversorgers in die omgewing.
“Die tuisversorgers is baie belangrik omdat hulle na die huise van bejaardes en siekes gaan om hulle te versorg. Van hulle is nou te bang om hul werk te doen, want hulle word geteiken.
“Een van die tuisversorgers het vertel hoe drie mans haar genader het. Die een was op ’n fiets en een van die ander het ’n groot hond by hom gehad. Die hond word dan aangepor om die tuisversorger aan te val en wanneer sy stop, beroof die ander haar,” sê Ludick.
Leerder met vuurwapen gedreig
In ’n ander voorval skryf ’n vrou op ’n Facebook-groep vir plaaslike inligting dat haar seun deur rowers met ’n vuurwapen gedreig is.
“My seun stap gewoonlik in ’n groep, maar op hierdie dag het hy alleen uit Sunbird Park uit skool toe gestap. Hy is deur ’n groep mans genader en die een het ’n vuurwapen gehad. Hulle het sy selfoon gevat, maar die een het gedreig om hom te skiet. ’n Ander rower het gesê hulle moet hom los, want hy het klaar die selfoon gegee,” skryf die ma.
Ludick het ’n beroep gedoen op inwoners, en veral leerders van die plaaslike skole, om versigtig te wees wanneer hulle naby Nooiensfontein beweeg.
AO November Filander, polisiewoorder, het bevestig dat daar die laaste ruk sporadies mense langs Nooiensfontein beroof word.
“Daar is verskeie metodes wat gebruik word. Soms sal die boewe messe gebruik en in ander gevalle vuurwapens. In een geval sal die boewe met motors vlug en op ’n ander keer op ’n fiets. Ek kan egter nie bevestig of daar al ’n klag gelê is waar ’n hond in die aanval gebruik is nie,” sê Filander.
Filander het ’n beroep op die publiek gedoen om mooi op te let hoe die verdagtes lyk. “Elke bietjie inligting wat ons ontvang kan die polisie help om die verdagtes vas te trek,” sê Filander.





