Die vyftienjarige seun wat na bewering Sondagaand sy ouers in Proteahoogte doodgeskiet het, ly glo aan ’n geestesgesondheidsversteuring.
Die Brackenfell-polisie is omstreeks 18:00 na die huis in Sharonsingel in Proteahoogte ontbied, waar die liggame van die ouers, albei 37 jaar oud, met skietwonde in die huis gevind is.
TygerBurger het betroubaar verneem dat die seun volgens beskikbare inligting probeer het om sy eie lewe te neem.
“Hy wou homself glo in die badkamer skiet toe sy pa ingekom het om hom te probeer keer. Hy het na bewering sy pa geskiet, en kort daarna sy ma, wat gevolg het,” sê die bron.
Volgens die bron was die egpaar se negejarige dogter ten tye van die tragedie by ’n naburige huis.
Maandag was die enigste tekens van die gesinstragedie die bloederige voetspore buite die voordeur van die huis.
Die 15-jarige seun is buite die huis in hegtenis geneem.
Hy het Maandag in die hof in Blue Downs verskyn en is in familie se sorg vrygelaat.
Die seun sou Maandag vir sielkundige waarneming gestuur word.
“Die polisie ondersoek die omstandighede rakende die dubbele moord,” sê sers. Wesley Twigg, ’n polisiewoordvoerder.
Die familie se name is aan TygerBurger bekend, maar word weerhou omdat die minderjarige verdagte se identiteit volgens wetgewing beskerm moet word.
Die hofsaak is tot Donderdag 17 Maart uitgestel.





