Foto ter illustrasie: die Hoërskool Brackenfell. Foto: Jaco Marais


Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het sy ondersoek afgehandel en die Hoërskool Brackenfell verlede week vrygespreek van rassisme nadat die skool in 2020 glo ’n matriekdans “slegs vir wit leerders” gehou het.

Die skool het ten tyde van die voorval sy amptelike matriekafskeid weens Covid-19-beperkings gekanselleer.

Gevolglik het ’n ouer in haar private hoedanigheid ’n geleentheid op ’n wynplaas vir haar dogter en vriende gereël, met kaartjies wat R500 kos.

Uitnodigings na die geleentheid, wat deur 42 leerders van die skool en 30 van ander skole bygewoon is, is op verskeie sosialemediaplatforms en ook tussen leerders gerig.

Videomateriaal van die geleentheid het kort daarna op sosiale media gesirkuleer wat groot ongelukkigheid gebring het onder ouers van kinders wat nie die geleentheid kon bywoon nie.

In die gewelddadige betogings wat gevolg het, het die EFF die skool van rassisme beskuldig.

“Terwyl die kommissie deur sy ondersoek bevind het dat sommige van die skool se amptenare van die geleentheid geweet het aangesien besonderhede van die geleentheid deur ouers en leerders van die skool op sosiale media en mondelings gedeel is, en vier onderwysers in hul private hoedanigheid genooi is, onthef die getuienis voor die kommissie die skool daarvan dat hy die geleentheid beplan, gefinansier, geadverteer of aangebied het,” het die kommissie Donderdag in ’n verklaring gemeld.

Die kommissie het dus bevind dat nie die skool óf die organiseerders direk of indirek teen gr. 12-leerders op grond van ras gediskrimineer het nie.

“Die kommissie is dankbaar vir die samewerking wat in die ondersoek ontvang is van alle verwante partye: leerders wat met die verskillende rasgroepe identifiseer, ouers en voogde van leerders, leerders van ’n ander skool, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die skool,” sê die kommissie.

TygerBurger het die skool vir kommentaar genader, maar het teen druktyd nog geen antwoord ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article