Na nege jaar aan die stuur van Hoërskool DF Malan, neem Sias Conradie, hoof, afskeid van die skool wat sy hart verower het.
In sy finale nuusbrief beskryf Conradie sy tyd by die skool as “een van groei, geloof en trots” en noem sy besluit om destyds Pretoria te verlaat om in die Kaap te kom werk as “een van die beste besluite van my lewe.”
“Die gees van DF – die blink oë, vriendelike gesigte en entoesiasme van ons leerders – het vir altyd ‘n plek in my hart,” skryf Conradie. “Ek is trots om met DF geassosieer te wees.”
Die skool het vroeg in 2025 rede tot trots gehad met die matrikulant-uitslae van 2024. DF-leerders het die merietelys van die WKOD gehaal met 548 A-simbole en ‘n indrukwekkende 92% graadvrystelling-syfer.
Die DF-familie het weer bewys dat ons VRIEND-waardes nie net woorde is nie.
“DF-leerders het, soos altyd, op alle terreine uitgeblink – akademie, diens, kultuur en sport. Hulle is leiers in hul gemeenskappe, spanmaats op die veld en kunstenaars op die verhoog,” beklemtoon Conradie.
Die afgelope jaar het ook infrastruktuurverbeterings gebring. Die RVR-tuinklub, gestig ter nagedagtenis aan Ruben van Rooyen, het nuwe lewe op die skoolterrein gebring met opgeknapte tuine, groentebeddings en ‘n kuierarea.
‘n Derde netbalbaan is oorgeverf en daar is begin bou aan ‘n nuwe musiek- en kunsklasruimte as deel van die skool se meesterplan om beter geleenthede vir leerders te bied.
Vir Conradie gaan dit egter nie oor geboue of punte nie, maar oor die mense. “Die DF-familie het weer bewys dat ons VRIEND-waardes nie net woorde is nie. DF se oop harte en hande is ‘n ware weerspieëling van ons Christelike waardes en omgee.”
Hy bedank die betrokke ouers, toegewyde beheerliggaam, passievolle personeelkorps en leerders wat met trots en lewenslus hul skool verteenwoordig.
Nuwe hoofstuk in 2026
Met ‘n oog op die toekoms sal DF Akademie in 2026 ‘n nuwe hoofstuk inlui onder ‘n nuwe naam, maar met dieselfde ryk tradisie van uitnemendheid.
“Ek wil graag dankie sê aan elkeen wat my reis as hoof só betekenisvol gemaak het. Ek gaan julle mis, maar ek belowe om steeds ’n trotse ondersteuner van DF te bly,” sluit Conradie af. Conradie tree af en gaan nou sy aftrede geniet in Springerbaai in die Tuinroete.
Hannes Oosthuizen, nuwe hoof van die Hoërskool DF Malan vat volgende jaar die leisels oor.
LEES OOK: https://novanews.co.za/tygerburger/df-kry-nuwe-skoolhoof/





