Matrieks juig: Hoërskool Brackenfell se matriekslaagsyfer is 99.6%

Die skoolhoof, Jannie Muller, klink ’n glasie saam met die 29 A-kandidate. In die middel voor is die dux-leerder, Philip Loubser. FOTO: Desirée Rorke


Daar was Vrydagoggend ’n warboel van emosies onder matrikulante wat hul uitslae vir die nasionale seniorsertifikaateksamen by die Hoërskool Brackenfell gaan afhaal het.

Binne die saal kon die klas van 2022 beswaarlik hul opgewondenheid onderdruk soos luide applous weerklink het nadat die skoolhoof, Jannie Muller, die algehele uitslae bekend gemaak het en die 29 A-gemiddelde kandidate aangekondig is.

Dié skool het vanjaar ’n fenomenale 99,6%-slaagsyfer behaal – meer as verlede jaar se 99,3%.

Van die 264 leerders wat ingeskryf was om hul eksamens af te lê, het 263 geslaag.

Die groep het altesaam 322 onderskeidings behaal en 84,5% van die leerders het met universiteitstoelating geslaag.

Opgewonde matrikulante wag om hul uitslae te ontvang. FOTO: Desirée Rorke

Muller sê die leerders se volgehoue harde werk is beloon met goeie uitslae.

Hy het die leerders, ouers en onderwysers vir hul toewyding bedank.

“Die klas van 2022 is ’n ongelooflike groep matrieks, pragtige kinders, en landsburgers waarop ons trots kan wees,” sê hy.

Hy voeg by dat dit veral moeilik was vir die groep wat die twee grade voor hul matriekjaar in moeilike omstandighede tydens die pandemie moes voltooi.

“Dit het hulle definitief beïnvloed en hulle moes meer moeite insit in hul matriekjaar,” het hy aan TygerBurger gesê.

Die skool se dux-leerder, Philip Loubser, het ’n gemiddelde van 93,7% behaal met agt onderskeidings waarvan sewe bo 90% is.

Mikpunt oorskry

Loubser het aan TygerBurger gesê hy is verheug oor die uitslae, wat sy mikpunt van 90% oorskry het.

“Ek was redelik besig in my matriekjaar tussen die akademie en sport. Dit was moeilik om tyd te kry vir alles. Ek het aan die begin van elke week gesit en die week vorentoe noukeurig beplan om seker te maak ek kom by al my werk uit,” sê hy.

Hy het sy ouers en onderwysers bedank vir hul hulp, ondersteuning en motivering. “Ek sê ook baie dankie vir my vriende wat gehelp het om my kop op die aarde te hou,” sê hy.

Die atmosfeer by die skool was gelaai met opgeruimdheid. FOTO: Desirée Rorke

Loubser begin vanjaar sy studies by die Universiteit Stellenbosch vir ’n BSc-graad in rekenaarwetenskap.

Die top-10 matrieks

  1. Philip Loubser (93,7%; agt onderskeidings met sewe bo 90%);
  2. Annemarie Antuma (89,85%; sewe onderskeidings met vier bo 90%);
  3. Anli Kleynhans (88,86%; sewe onderskeidings met vyf bo 90%);
  4. Anthony Oosthuizen (88,85%; sewe onderskeidings met vyf bo 90%);
  5. Mia Pistorius (87,14%; sewe onderskeidings met drie bo 90%);
  6. Wilmari van Wyngaard (86,57%; sewe onderskeidings met een bo 90%);
  7. Chris-Nay Filand (85,43%; ses onderskeidings met een bo 90%);
  8. Darrah Hose (85,29%; vyf onderskeidings met drie bo 90%);
  9. Paul Ockhuis (85,28%; vyf onderskeidings met twee bo 90%);
  10. Micayle Agnew (84,57%; ses onderskeidings met twee bo 90%).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article