Herbert “Mannetjies” Viljoen se 90ste verjaardag gevier

By Herbert “Mannetjies” Viljoen se 90ste verjaardag was (van links) Arthur Reichhardt, Chris Rorich, Marlene Agendag en haar man, Edwin. Al vier is lede van die NTK-rugbyklub in Parow-Noord. Voor sit Viljoen met die Walter Levi-wisseltrofee vir die Span van die Jaar, wat hy self as kaptein in 1953 met sy span gewen het.


Vriende en familie het onlangs byeengekom om die verjaardag te vier van ’n Suid-Afrikaanse rugby-bekende Herbert “Mannetjies” Viljoen.

Viljoen, ’n haker wat vir WP uitgedraf het, het sy 90ste verjaarsdag op Donderdag 17 November gevier.

Hy is een van die oudste lewende oud-WP-rugbyspelers wat nog lewe, sê Arthur Reichhardt, woordvoerder van die NTK-rugbyklub wat saam met Viljoen sy spesiale dag by sy huis in Parow-Noord gevier het.

“Die man lyk goed vir ’n man wat 90 jaar oud is,” sê hy.

Viljoen het vir 17 jaar onophoudelik vir die NTK-rugbyklub gespeel of soos dit in sy tyd bekend was, die Noordelikes. Hy het as 17-jarige vir die klub begin speel toe die klub nog bekend gestaan het as die Parow-rugbyklub in 1949. Die klub het in 1951 met die Maitland-rugbyklub saamgesmelt om saam met dié klub Noordelikes te vorm, sê Reichhardt.

Viljoen het in 1953 vir die derde span as kaptein gespeel voor hy as kaptein van die eerste span uitgedraf het.

Spanbeker ook deel van besoek

Die Span van die Jaar-beker is met hul besoek aan Viljoen saamgeneem, waarop sy naam ook gegraveer is.

“Hy het ook menigmaal saam die eerste span dié beker gewen. Hy het van 1954 tot 1966 vir die eerste span gespeel, waarvan hy in 1966 die WP se Super A-liga gewen het, of soos dit nou bekendstaan, die Groot Uitdaag-beker, wat natuurlik die hoogtepunt was.”

Sy mentor en afrigter was die legendariese Springbokkaptein Hennie Muller. Daar is ook vroeër vanjaar hulde gebring aan Muller by dié klub vir wat sy 100ste verjaardag sou wees. Hy is in 1977 oorlede. Muller was ook die NTK-rugbyklub se afrigter in 1960 en Viljoen het groot respek en agting vir hom gehad, sê Reichhardt.

“Hy het die voorreg en eer gehad om saam met hom in 1954 te speel toe Hennie nog die kaptein was. Toe was hy (Viljoen) maar nog bloedjonk. Hy het onder Hennie se afrigting gefloreer en het vir die WP haker gespeel.”

Steeds aktief ná sy uittrede

Viljoen het in 1962 uit die WP getree. “Sy laaste wedstryd vir die WP was teen die Britse en Ierse Leeus.”

Hy het ná sy rugbyloopbaan by die NTK-rugbyklub afgerig. “Meestal maar die onder 20’s.”

Viljoen was ook spanbestuurder by NTK, en afrigter by Villagers en WP.

“Hy was ook ‘n toer-bestuurder vir Australië se 1995 Wêreldbeker-span,” sê Reichhardt.

Hy voeg by: “Hy het ook die voorreg gehad om op Twickenham te speel vir die span met die naam van Twickenham Exiles. Dit is soos ’n “Barbarian”-span. In dié wedstryd het hy skrumskakel gespeel.”

Viljoen het deur die jare oor die wêreld heen getoer en sy eie seiljag gehad.

“Dit gaan baie goed met hom. Hy loop maar moeilik, maar is dankbaar dat ons kon kom kuier.”

Viljoen was altesaam 40 jaar lank aan die NTK-rugbyklub verbonde, sê Reichhardt.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article