“As jou planne vir een jaar is, plant rys. As jou planne vir tien jaar is, plant bome. As jou planne vir honderd jaar is, onderrig en voed kinders op.” So lui die Chinese spreekwoord waaraan Neil Jansen dink as hy vir Henry Alexander, voormalige hoof van die Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein, onthou.
‘n Geliefde lid van die Kraaifontein-gemeenskap, is Alexander op 15 Junie in die ouderdom van 72 oorlede.
In `n hartroerende huldeblyk aan Alexander sê Jansen: “Daar is mense wat ‘n beroep beoefen, en dan is daar mense wat ‘n roeping uitleef.”
Jansen, ‘n stigterstrustee van die destydse Media24 Rachel’s Angels Mentorskapprojek by die skool, sê hy het die voorreg gehad om Alexander se invloed eerstehands te beleef toe hy in 2006 betrokke geraak het by die projek onder leiding van Professor Rachel Jafta.
“Oor ‘n tydperk van tien jaar het die projek meer as 1 000 jongmense positief beïnvloed. Bernadino Heights was een van die skole wat vir die volle tien jaar deelgeneem het,” vertel hy.
“Jaar ná jaar het die skool uitgestaan. Sy akademiese resultate, deelname aan die projek en algehele prestasie was konsekwent van die beste. Sulke sukses gebeur nie toevallig nie. Dit is die gevolg van sterk leierskap, hoë standaarde en ‘n kultuur van uitnemendheid. Mnr. Alexander het ‘n bepalende rol daarin gespeel.”
Hy het verstaan dat goeie onderwys nie net oor punte gaan nie, maar ook oor karakter, verantwoordelikheid en selfrespek.
Alexander is in Calvinia in die Noord-Kaap gebore en het die Elsiesrivier-hoërskoolgemeenskap van 1976 tot 1989 gedien nadat hy sy studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi het.
In 1993 is hy as skoolhoof by Bernadino Heights aangestel. Bernadino Heights is geleë in ‘n werkersklasgemeenskap wat oor baie jare met uitdagings soos armoede, werkloosheid, geweld en bende-aktiwiteite moes worstel.
“Tog het mnr. Alexander geweier om hierdie omstandighede as verskonings te gebruik, maar het eerder ‘n skool gebou wat ‘n baken van hoop geword het,” sê Jansen.
“Onder sy leiding het Bernadino Heights bekend geword vir uitstekende akademiese prestasies, sterk dissipline en ’n kultuur waar leerders geglo het hulle kan sukses behaal. Hy het verstaan dat goeie onderwys nie net oor punte gaan nie, maar ook oor karakter, verantwoordelikheid en selfrespek.”
“Wat my altyd opgeval het, was sy erns en fokus. Hy was nie noodwendig die persoon wat die meeste gelag het of die meeste aandag gesoek het nie. Sy aandag was op die taak. Sy liefde vir sy werk en sy leerders was egter nooit in twyfel nie. Sy personeel het hom gerespekteer omdat hy gelei het met integriteit, konsekwentheid en duidelike standaarde.”
Gehalte onderwys
In ‘n tyd waarin Suid-Afrika worstel met hoë werkloosheid, stadige ekonomiese groei en maatskaplike uitdagings, sê Jansen herinner Alexander se nalatenskap ons aan ‘n eenvoudige waarheid: die oplossing begin by gehalte-onderwys.
“Hy het geweet dat jongmense nie deur hul omstandighede bepaal word nie, maar deur hul karakter, hul keuses en hul bereidwilligheid om hard te werk. Hy het duisende leerders gehelp om in hulself en hul drome te glo.
“In ’n era waarin baie mense hulself as leiers voordoen, herinner Alexander ons aan wat ware leierskap beteken. Leierskap gaan nie oor status of posisie nie. Dit gaan oor diens, integriteit en die moed om elke dag die regte ding te doen.
“Sy lewe laat ook ‘n belangrike vraag ontstaan,” sê Jansen. “As skoolhoofde so ‘n groot invloed op die toekoms van ons land het, behoort leierskap- en bestuursopleiding vir skoolhoofde nie ‘n luukse te wees nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Ons het meer skoolleiers nodig wat met beide ruggraat én hart kan lei.”
Miskien is daar geen beter manier om sy nalatenskap te vereer as om ’n permanente huldeblyk by Bernadino Heights te oorweeg nie, meen Jansen.
“Of dit nou ’n gebou, saal, beursfonds of ander gedenkteken is, toekomstige geslagte behoort te weet van die man wat bewys het dat uitnemendheid moontlik is, ongeag waar jy vandaan kom.”
“Mnr. Alexander se nalatenskap lê nie net in matriekuitslae of toekennings nie. Dit leef voort in die lewe van die duisende jongmense wat deur sy leiding geïnspireer is om beter mense, beter burgers en beter leiers te word. Dit is die ware maatstaf van ’n lewe van betekenis. Rus sag, Meneer.”
LEES OOK: The library built on a crime scene that changed a generation
Leerders onthou
Honderde huldeblyke het sedert sy dood op sosiale media ingestroom en ‘n hartseer gemeenskap in rou verenig.
MJ Tshiba skryf dit voel asof ‘n “stukkie van sy hart” saam met sy geliefde oud-skoolhoof gesterf het.
“Mnr. Alexander, jy is die rede dat ek vandag die sterk vrou is wat ek is. Jy is die rede dat die lewe my nie ondergekry het nie. Ek het nooit my drome prysgegee nie, en vandag is ek ‘n onderwyser.”
Felicia Hendricks skryf: “Werklik ‘n merkwaardgie hoof vir ons gewees. Die beginsels wat hy altyd aan ons voorgehou het en dissipline wat hy gehandhaaf het op skool was nie tevergeefs nie. Hy het ‘n legacy by die skool gelaat.”
Ook Vera Eramus noem hom ‘n “legend“. “Wat ‘n merkwaardige man. Rus in vrede, meneer.”
‘n Gedenkdiens vir Alexander is op 18 Junie by Bernadino Heights gehou.



