Jare terug het min ouers hulself aan die woord “angs” gesteur, nog minder gedink hul kinders ly daaraan. Deesdae is angs, stres en depressie gonswoorde onder tieners en selfs kinders wat nog nie eens in die laerskool is nie. Maar is die jeug deesdae meer angstig of vestig ons nou net meer aandag daarop?
Daar is baie meer inligting beskikbaar rakende angs en simptome van depressie, sê dr. Serahni Symington, ’n spelterapeut van Durbanville. “Terselfdertyd dink ek mense is ook meer ingestel op sielkundige en emosionele welstand as vroeër jare,” sê sy.
Tog lyk ons samelewing baie anders as 10 tot 15 jaar gelede.
Symington sê ’n mens moet in ag neem hoe vinnig die pas is van ons samelewing, hoe produktief ouers is (en dus langer werk) en hoe kinders druk ervaar om te presteer. “Selfs sport is nie bloot net meer rondhardloop op die veld nie. Van graad R af kry kinders al formele afrigting. Daar is baie meer opsies om van te kies en die keuses in die lewe is wyd en baie. Kinders se brein is nog nie altyd reg vir al die verantwoordelikheid wat met die besluite, druk en vol programme saamgaan nie. Las dan nog daarby ouers se besige skedules, en ons kan verstaan hoekom kommer oor angs en depressie onder kinders en tieners heers.”
Stres versus angs
Mari O’Reilly, ’n voorligtingsielkundige van Durbanville, sê dit is belangrik om te besef dat stres normaal en gesond is. “Stres kan ons soms beskerm en laat ons twee keer dink voordat ons iets doen. Stres kan ook as motivering dien. As jy vir ’n toets stres, motiveer dit jou om hard te leer en jou bes te gee.”
Angs is egter ongesond. “Sodra jy dit by jou kind identifiseer, moet ’n mens die angs-monster regtig kreatief saam met hulle aanpak. Dit gaan nie net sommer vanself weg nie.”
Symington sê dit kan ontwikkeling beïnvloed en selfs beperk. “Dit het ’n emosionele en fisiologiese impak en druk op ’n kind se holistiese ontwikkeling.”
O’Reilly sê daar is ook ’n wye verskeidenheid tipes angs – elkeen met verskillende simptome. Hierdie sluit onder meer in sosiale angs, paniekversteurings en algemene angs in.
Simptome
Algemene simptome sluit in: Geen of slegte eetlus, hoofpyn, sleg slaap, vinnig moeg word, meer geïrriteerd as gewoonlik of vinnig kwaad raak, rusteloos voorkom, konstant bekommerd of gereeld badkamer toe gaan, negatiewe selfspraak, verloor belangstelling in aktiwiteite wat altyd baie lekker was, of onttrek aan sosiale omgewings waarin hul eens belangstel het. “Die klem is op gedragspatrone wat verander en buite die normaal voorkom,” sê Symington.
Dit beteken ook nie dat jou kind angstig is as hy net vir ’n dag een van dié simptome toon nie. Voordat ’n diagnose gemaak kan word, moet ’n sekere hoeveelheid van hierdie simptome oor ’n sekere tydperk plaasvind.
Oorlaai ouers hul kinders?
Dit is deesdae nie ongewoon om te sien hoe kinders al van voorskoolse ouderdom af verskeie aktiwiteite en sportsoorte aanpak nie. Is dit egter verkeerd?
Dit hang baie af van kind tot kind, sê Symington. “Sommige kinders floreer in besige omgewings. Kinders wat dalk meer introvert is, benodig tyd vir hulself om batterye te herlaai. Dit hang baie af van jou kind se persoonlikheid en temperament.”
O’Reilly sê die laerskoolfase is ’n wonderlike tyd om kinders te help om hul talente te ontdek.
“Laerskoolkinders neem soms aan meer verskillende soorte aktiwiteite deel sodat hulle kan sien wat hulle geniet en waarin hulle goed is. Dit kweek ook onder meer deursettingsvermoë, spanwerk en tydbestuur.”
Ouers moet egter altyd kinders se emosionele welstand dophou, sê albei terapeute.
O’Reilly sê jy kan jouself die volgende afvra: “Is jou kind werklik gelukkig? Watter aktiwiteit is meer stresvol as pret? Waaraan wil hulle regtig deelneem en wat klink dalk net vir ons as ouers lekker of goed?”
Jy kan aan die begin van die jaar met jou kinders gesels oor wat hul doelwitte vir die jaar is, hetsy buitemuurse aktiwiteite, akademie en sosiaal. “Help hulle om hul doelwitte te prioritiseer, kapasiteit te bestuur en tussen aktiwiteite te kies indien nodig.”
Oorlaai kinders hulself?
O’Reilley sê party kinders plaas baie druk op hulself, al doen die ouer glad nie. Sy sê dit is goed om realistiese doelwitte te stel.
“Indien hulle graag iets wil bereik, help hulle om dit in kleiner dele af te breek. Vat byvoorbeeld hul rapport, en indien hulle 60% vir ’n vak gekry het, help hulle om binne hul vermoë ’n doelwit vir volgende kwartaal te stel, soos byvoorbeeld 62%. Aan die einde van die kwartaal kan ’n mens die doelwitte herevalueer en gesels oor wat hulle nie behaal het nie.
“Kinders moet verstaan dat foute, mislukkings en teleurstelling deel van die lewe is. Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie. Hoe jy as ouer teleurstelling hanteer, speel ook ’n groot rol in hoe jou kind dit hanteer. Baie outjies het ’n vrees vir mislukking/teleurstelling. Hulle raak voor die toets so angstig, want wat as hulle nie 80% kry nie, nie gaan deurkom nie of nie vir die span gekies word nie?”
Hoe kan ouers help?
“Roetine en struktuur laat ’n mens veilig voel. Almal van ons is nie roetine-ouers nie, maar indien jou kind angstig is, help dit as hulle weet wat om te verwag. Baie keer is dit bloot ook net voorkeur, sê O’Reilly. “Die ouers wie se kinders presies wil weet na watter winkels toe hulle gaan en ontsteld is as die planne verander, sal weet waarvan ek praat.”
Maak bewustelike tyd vir die kinders om te ontspan, raai Symington aan. “Veral in vars buitelug. Daar is baie oulike navorsing wat wys dat ‘green-time’ meer balans en goeie gesondheid bevorder in plaas van ‘screen-time’ wat kan bydra tot oorlaai van klein lyfies en breintjies. Ontspanning werk teen spanning.”
Beplanning, struktuur en roetine is ook belangrik.





