’n Hawelose stoot sy besittings op ’n trollie in Hannes Louw-rylaan. FOTO: Richard Roberts

Richard Roberts

Inwoners van Belvedere en Avondale in Parow sê hulle is raadop met haweloses wat gereeld dié gebiede as deurgang gebruik. Daar word vermoed dat van die hawelose mense wat deurbeweeg, by inbrake en voorvalle van diefstal in die twee gebiede betrokke is.

Kassie Steenkamp, wat al byna 30 jaar in Spes Bona-rylaan, Belvedere, woon, sê hy sien gereeld hoe haweloses, wat in tente langs die N1-snelweg woon, agter verby sy huis beweeg. Hy monitor ook die mense se beweging met behulp van sy kringtelevisie-stelsel. Haweloses maak gebruik van ’n stegie wat agter sy huis en die eiendom van ander verbyloop.

Jandré Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van vervoer, is genader rakende die “inwoners” langs die snelweg.

“Ek kan verklaar dat ons ook uitdagings ervaar – die oomblik as ons, met behulp van wetstoepassers, onwettige besetters verwyder, keer hulle terug.

“Dit bly ’n bewegende teiken, en buiten dat ons hulle versoek om weg te beweeg, is daar nie veel anders wat ons daaraan kan doen nie,” sê Bakker.

Steenkamp sê hulle het reeds in Desember verlede jaar die kwessie met die wyksraadslid bespreek.

Hy sê sy woning is ’n brandpunt.

“Niemand neem verantwoordelikheid vir die erf agter ons eiendom nie. Ek wil net weet, waarvoor word die R1 000 per maand wat ek dan betaal, aangewend?” vra hy.

Steenkamp sê hy sukkel al sedert hy ingetrek het, met die probleem.

Hy sê in die drie dekades is daar reeds vier motors voor sy huis gesteel.

Riaan de Jager, waarnemende voorsitter van die Avon/Tyger-buurtwag, sê daar is al vroeër met ’n vorige raadslid oor die haweloses gesprek gevoer.

“Dit is egter nou erger as wat dit voorheen was. Ons het al menigmaal gekla oor die stegie en versoek dat ’n hek daar aangebring word, maar daar het nog niks van gekom nie.”

Inwoners meen daar is ’n direkte verband tussen die misdade wat in die gebied gepleeg word en die beweging van die haweloses.

Daar is vroeër uitgereik na die Stad Kaapstad se wetstoepassingseenheid. Daar is ook versoek dat buurtwaglede meer patrolleer, sê De Jager.

Hy sê daar is nou planne om binne die volgende twee weke kameras in die gebied te installeer.

De Jager sê soms beweeg tot 30 mense op en af in die gebied. “Dit lyk amper soos ’n treinstasie.”

Hy sê daar bestaan ’n goeie verhouding met party van die polisiebeamptes van die Parow-polisiekantoor.

Hy sê ook dat hulle bewus is van die tekort aan personeel en hulpbronne by dié kantoor.

Daar bestaan ook ’n goeie verhouding met die Goodwood Armed Patrol-sekuriteitsdiens wat die gebied gereeld patrolleer.

Die inwoners sê van die haweloses is al in die verlede verwyder, maar hulle keer herhaaldelik na die gebied terug.

“Ons hande as ’n buurtwag is afgekap; ons mag nie mense in hegtenis neem nie. Ons mag ook nie net mense verwyder nie. Ons volg die reëls en die prosesse,” sê De Jager.

’n Hawelose stoot sy besittings op ’n trollie in Hannes Louw-rylaan. FOTO: Richard Roberts

Inwoners van Belvedere en Avondale vra dat die heining langs die N1-snelweg herstel word, wat hopelik haweloses se beweging sal stuit.FOTO: Richard Roberts

Kassie Steenkamp, ’n inwoner van Belvedere in Parow, by sy kringtelevisie-kamera-skerms waarop hy die haweloses agter sy erf monitor. FOTO: Richard Rberts

Roger Cannon, ’n wyksraadslid, het bevestig hy weet van die kwessie en dat hy klagtes oor die haweloses ontvang het.

“Ek was ook reeds by die huise van die betrokke inwoners en het die kringtelevisie-beeldmateriaal gesien.

“Ek het ’n amptenaar van die Stad gaan spreek en daar is reeds ’n kwotasie ontvang vir die oprig van ’n hek by die ingang van die stegie,” sê Cannon.

Hy sê daar is ook met ’n amptenaar van die Stad se eiendomsbestuur vergader, sowel as die wetstoepassingseenheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article