Nilu was die Rust-en-Vrede-galery in Durbanville se geliefde gelukbringer.


Die personeel en gereelde besoekers by Rust-en-Vrede-kunsgalery in Durbanville is steeds hartseer en geskok nadat die lieflinghondjie en galery-gelukbringer Nilu onlangs doodgery is.

Nilu, ’n Yorkshireterriër-tefie, was op 11 April op Nasionale Troeteldierdag by die hondesalon Woofbox in Wellingtonweg toe sy uitgekom en die straat in gehardloop het.

Die hondjie is kort daarna naby Knead in Queenstraat deur ’n motor raakgery.

Hamlin Jansen van Vuuren, wie se hondjie dit was, het haar, sedert sy haar twee jaar gelede gekry het, elke dag na die galery gebring.

“Besoekers aan die galery het gou lief geword vir haar en het dikwels teruggekeer na die galery om spesifiek vir haar te kom kuier. Sy het bietjie van ’n ‘legend’ geword hier,” sê Donavan Mynhardt, kurator-assistent.

Wat hulle nog verder ontstel het, is dat die hondesalon eers verlede week – meer as ’n week en ’n half ná die voorval – sifdraad by die veiligheidshek, waardeur Nilu ontsnap het, opgesit het.

“Hulle het ook sover gegaan om die voorval teenoor ander kliënte te ontken. Ons verneem ook dat daar soortgelyke voorvalle in die verlede plaasgevind het by ander Woofbox-takke,” sê hy.

“Dit was ’n geweldige skok en verlies vir ons almal hier. Ons wil graag keer dat so iets met iemand anders gebeur,” sê Mynhardt.

Jansen van Vuuren het troeteldiereienaars op Facebook gewaarsku om seker te maak ’n hondesalon het genoegsame beskerming om veral klein hondjies binne te hou.

Volgens haar het sy Nilu na die hondesalon gevat dat sy gewas en haar naels geknip kan word. Sy het haar self agter in ’n hok gesit. Toe Nilu haar een poot teen die draadhek sit, het sy haar hand teen Nilu se poot gesit en gesê “soet bly”, “soos ek altyd doen”, sê sy.

Die hondesalon het haar ná sowat 40 minute gebel en gesê Nilu is klaar en dat sy haar maar kan kom haal.

“Toe ek daar aankom, het die eienaar by die deur gestaan en gesê Nilu het nou net uitgeglip en in die straat af gehardloop.

“Hy het in die rigting gewys waarin sy gehardloop het. Dit was ’n paar meter van die besige hoofpad en ek het rasend agterna gehardloop.”

Kort daarna het die hondesalon weer gebel en gesê hulle het haar gekry; sy is terug by die salon.

“Die eienaar het buite gewag en gesê die hondjie is agter. Hy het aanmekaar om verskoning gevra. Hy het gesê ’n kar het haar raakgery. Ek het amper van my kop af geraak en het gewonder hoekom hy so lank vat; ek moet haar by ’n veearts kry. Ek is agtertoe en het geskree ‘waar is my hond’!

“Die eienaar het rondgekyk en gesê hy weet nie waar hulle haar gesit het nie. Hy het sy personeel gevra en toe kom ’n werker in van agter met Nilu in sy hande.

“Haar nek het slap gehang en bloed het uit haar ore en mond gekom. Sy het haarself bevuil,” sê sy. Die hondjie was reeds dood.

“Nilu se naels was geknip, maar sy was nog nie gewas nie; daar was nog grassade in haar hare en ek kon voel aan haar hare dat sy nog nie gewas is nie,” het sy aan TygerBurger gesê.

“Dit beteken sy het in die strate rondgehardloop op soek na my vir ’n geruime tyd voor hulle my gebel het. As hulle nie so begaan was oor hul reputasie nie, kon ek al vroeër na haar begin soek het.”

Jansen van Vuuren reken Nilu is nooit gewas nie en dat sy al vroeër uitgekom het, en dat sy, nadat sy doodgery is, heeltyd by die salon was.

“Hulle het haar die heeltyd gehad terwyl ek soos ’n mal mens in die strate rondgehardloop het op soek na haar. Hulle kon haar skoonmaak, toedraai in ’n kombers en darem deernis en menslikheid toon – hulle het die tyd gehad.

“Ek het alleen daar uitgestap – geen aanbod om my iewers heen te ry nie. Dat my geliefde maat, beste vriend, my alles so ’n wrede en onwaardige einde moes hê, sal vir ewig by my spook,” sê sy.

Mynhardt het op Facebook gesê hy is geskok en teleurgesteld in hoe die hondesalon die voorval hanteer het.

“As iemand sy geliefde troeteldier aan ’n hondesalon gee, vertrou hy sy troeteldier is in goeie hande; dis amper soos om jou kind aan ’n crèche toe te vertrou.

“Ek weet onvoorsiene goed kan gebeur, maar eers moes sy rondhardloop op soek na haar hond, dan bel hulle en sê die hond is gevind, en gee haar dan die lewelose, vuil, bebloede hond.

“Ek is uiters ontsteld oor die gebrek aan empatie aan iemand wat so iets moes deurmaak,” sê hy.

Jacques Redelinghuys, eienaar van Woofbox, het aan TygerBurger gesê hy was net so geskok oor die voorval en het amper saam met haar oor die hondjie gehuil.

“Die hondjie het uit ’n werker se hande gespring en by die deur van die salon na die ontvangsgedeelte gehardloop en daar by die veiligheidshek uitgeglip.

“Die deur na die salon is gewoonlik toe en het om een of ander onverklaarbare rede op ’n skrefie oopgestaan,” sê hy.

“Alles het so vinnig gebeur en toe kom sy (Jansen van Vuuren) daar aan. Ons sou nog die hondjie skoonmaak en in ’n kombersie toegedraai het, maar sy wou net haar hond vat.

“Ek het hoeveel kere gebel om jammer te sê, vir haar blomme werk toe gestuur, maar sy wou nie met my praat nie. Ek het haar ook terugbetaal.

“Ek is ook bereid om, as sy weer ’n Yorkie wil hê, vir haar een te koop. Ek is regtig jammer oor wat gebeur het,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article