’n Werklose man van Delft sit met sy hande in die hare nadat wat hy ’n “orkaan” noem verlede week groot skade aan sy huis aangerig het.
Edward Haigh van Delft sê hy was alleen in die huis toe, wat waarskynlik ’n rukwind was, sy huis tref.
“Dit het vir my gevoel die huis styg op en gaan saam met my die wêreld in. Toe ek deur die venster kyk, sien ek die afdak langs die huis stort heeltemal ineen. Ek kon nie by die deur uitkom nie en ewe skielik sien ek hier lig en waai die dakplate van die voorste kamer die lug in,” sê Haigh.
Volgens hom het die wind vir nog so vyf minute sterk gewaai.
“Só sterk was die wind dat die dakplate van die huis by nommer 3 in ons straat tot by my huis, wat nommer 9 is, gewaai het. Kwajongens in die straat het net gewag tot die wind gaan lê, toe dra hulle van die plate weg en gaan gee dit in by die skrootwerf,” sê ’n hartseer Haigh.
In hierdie stadium word die afdak net deur die hek regop gehou.
“Ek het nog nie die skade bereken nie, maar ek is seker dit gaan ’n hele paar rand kos om te herstel. Ek hoop nie dit reën binne die volgende paar dae nie, want dit gaan beslis inreën. Ek is gelukkig dat ’n span van Eskom, wat uit Delft onderweg was, gesien het hoe elektriese drade wat na die huis toe loop, beskadig is. Verskeie ander kragdrade en pale in die straat is verwoes en lewendige drade het rondgehang. Eskom se mense het dadelik ingespring en die drade en die pale begin regmaak. Ek is regtig dankbaar dat niemand seergekry het nie,” sê hy.
Past. Charles George, ’n gemeenskapsleier in Delft, sê hy is dankbaar dat niemand seergekry het nie.
“Die gehalte van die huise in Delft is al in Mandela se tyd onvoldoende verklaar. Verbeel jou ’n regte orkaan tref die gebied? Daar sal groot lewensverlies wees, veral in die gebiede waar die onwettige strukture opgerig is. Dit sou ’n groot tragedie afgegee het,” sê George.
George sê hy hoop daar kan eendag ’n noodsentrum in Delft opgerig word.





