’n Sang-groep van Eersterivier gaan volgende jaar aan die Wêreld-koorspele in Nieu-Seeland deelneem.
Die groep, bestaande uit sowat 18 lede, heet die Treble Clefs en is in 2019 gestig.
Volgens Claudette Stewart, die woordvoerder vir die groep, kom al die lede uit Eersterivier en omgewing. “Ons sing ietsie van alles in Afrikaans en Engels. Die doel met die groep is om God te verheerlik met die talent wat ons van Hom ontvang het. Ons sing vir genot en put plesier daaruit om nuwe genres te leer,” sê Stewart.
Sy sê die koor se ontstaan is te danke aan teëspoed wat baie van die lede oor die jare gehad het.
“Weens baie persoonlike probleme was ek op ’n laagtepunt in my lewe. Agt van ons het bymekaar gekom, elkeen gekwes en beseer deur die lewe. Ons het ons seer probeer verlig deur sang en steeds is die koor ’n veilige hawe vir baie van ons,” sê Stewart.
Die koor het al oor die Skiereiland heen in plekke soos Mitchells Plain, Elsiesrivier, Sarepta, Parow, Strand, Bellville, Kraaifontein, Stellenbosch en by die Waterfront opgetree. Dan was hulle ook al so ver as Upington in die Noord-Kaap. Hulle het ook ’n tweede plek in die Suidoosterfees se kore-kompetisie behaal. Nou mik hulle Nieu-Seeland toe.
“Die grootste struikelblok om daar te kom, is geld. Ons tree gereeld op en hou geldinsamelingsgeleenthede, maar ons het nog nie ons teiken bereik nie. As daar mense is wat ons vir optredes wil bespreek of ons wil help om in Nieu-Seeland uit te kom, sal ons dit waardeer, want ons wil ons land trots maak,” sê Stewart.





