Graad 11-leerder by Hoërskool Tygerberg bederf vroue

Altesaam 120 gevriesde maaltye, ’n boks met nie-bederfbare goedere en groente, asook bederfpakkies, deur Sonique en haar ma verpak.

Credit: SYSTEM

Sonique Esterhuizen, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Tygerberg in Parow en ’n baie aktiewe lid van die skool se Landsdiens, het vroue van hul kerk bederf.

Op Vrydag 5 Augustus het Sonique by die Friend of God AGS-kerk in Goodwood ter ere van Vrouedag ’n koek-en-tee-byeenkoms gehou waar sy 10 vroue met pakkies bederf het wat sy verpak het.

Sy het ook haar leiersvaardighede getoon deur self die spreker by hierdie byeenkoms te wees.

Sy het die vroue met ’n persoonlike getuienis bemoedig.

Met die hulp van skenkings het Sonique en haar ma as ’n ma-dogter-span 120 gevriesde maaltye voorberei, wat gewissel het van lasagne en oondgebakte groente tot wildspastei, geelrys, blomkool en broccoli met kaassous, butter chicken en roti’s. Sonique kon 10 vroue elk seën met 12 gevriesde maaltye, ’n doos met nie-bederfbare artikels en groente, sowel as ’n geskenkpakkie met ’n verskeidenheid lekkernye – van koekies tot vrugte.

Op groot skaal

Karin Esterhuizen, Sonique se ma, sê sy het geweet Sonique sal dit op groot skaal wil doen, “en ons as gesin het dadelik ingestem om haar te ondersteun”.

“Min het ons geweet hoe groot haar doelwit regtig was. Haar visie was om 10 vroue vir Vrouemaand te bederf deur hul vrouwees te vier met ’n bederfpakkie en ook om hulle te seën met gekookte maaltye en etes vir ongeveer ’n maand.

“Sy wou vroue van ons kerk bederf en het die kerk genader vir hulp met die aanwys van die vroue,” sê Esterhuizen.

Om ’n verskil te maak, was vir seker die dryfkrag agter Esterhuizen se Springbok-projek vir die Landsdiens.

“Sonique se hart en liefde vir haar medemens is so groot dat dit geen verrassing was toe sy haar projek se doelwit met my gedeel het nie,” vertel haar ma.

Landsdiens is ’n jeugorganisasie wat al ongeveer 108 jaar bestaan. Landsdiens se grootste waardetoevoeging tot die jeug van Suid-Afrika is die ontwikkeling van verantwoordelike burgers beide op ’n nasionale, sowel as internasionale vlak.

Die organisasie dra by tot die vorming van landsburgers wat die toekoms kan aanpak met genoegsame vaardighede, asook inisiatief en selfvertroue om ’n groot verskil te maak in die samelewing.

Een van die Landsdiens se hoofdoelwitte is om te streef na liefde vir hul medemens, die natuur, arbeid en om die liefde vir hul Skepper uit te beeld.

Springbokkleure sal ’n bonus wees

“Onlangs het ek net meer en meer bewus geword van die belangrike rol wat bejaardes in ons samelewing speel,” sê Sonique.

“Ek het dit geleer deur die rol wat my eie familie en my kerk speel, en wou baie graag ander bejaardes laat voel hoe belangrik hulle is en dat hulle waardeer word.”

Volgens Sonique beteken dit baie dat sy al op die ouderdom van 17 die geleentheid gegee is deur haar skool se Landsdiens om moontlik haar Springbokkleure te verwerf.

“Ek sien baie uit daarna en is bly dat al my harde werk moontlik vrugte sal dra.”

Maar, uit hierdie hele projek is Sonique se grootste doelwit bereik, naamlik “om die vroue te bederf en spesiaal te laat voel en om die Here se goedheid en guns in my lewe te gebruik om ander te inspireer. Sou ek Springbokkleure verwerf, is dit ’n bonus.”

Dankbaar vir die skenkings

Sonique het van die begin af dadelik werk daarvan gemaak om ’n advertensie te maak om donasies en skenkings te werf.

Sy is ewig dankbaar aan almal wat bygedra het tot die sukses van haar projek, want sonder die vrygewigheid van familielede, vriende en plaaslike besighede sou haar projek nie moontlik gewees het nie, sê sy.

Sy rig haar dank aan Total Control Electrical Bothasig wat die verpakking vir die kos en bederfpakkies geborg het, Cedar Spar in Bothasig se skenking van bestanddele vir een van die gevriesde maaltye, PnP Circle Centre vir sy geskenkbewys, en Prime Meat Market in Elsiesrivier vir die skenking van groente.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article